Rawsonville is voorwaar ’n pragtige dorp wat ongelukkig deur geraas geteister word. Keer op keer bederf harde musiek wat laatnag op konsert- tipe klankstelsels en luidsprekers gespeel word, die vreedsame bestaan van inwoners.
Die afgelope Sondag het die musiek weer tot middernag aangehou. Ek is nie seker hoe mense wat binne 500 meter van die geraas af woon, dit hanteer nie. Dit is nie regverdig dat ’n paar mense hul musiek so hard speel dat dit gepas sou wees om oor sportstadion-luidsprekers uit te saai en die rus en slaap van ander mense wat moet werk en bejaardes wat hul rus nodig het, te versteur nie.
Die polisie word ook gereeld gekontak om hierdie blatante verontagsaming van munisipale ordonnansies te stop, maar niks gebeur regtig om dit te keer nie. Die polisie weet wie die skuldiges is, maar is nie bereid om daadwerklik op te tree nie. Wanneer jy die munisipaliteit bel, word jy ook met apatie begroet. Byna elke naweek (en soms selfs gedurende die week) gaan die harde musiek voort en ons vrees dat dit net erger gaan word. Verlede jaar is die musiek van 16 Desember tot 3 Januarie deurlopend kliphard gespeel.
Wanneer gaan iets gedoen word? Om die polisie te skakel, help eintlik nie, en nou moet die munisipaliteit of provinsiale regering ingryp en iets daaromtrent doen.
Honde wat enige tyd deurlopend blaf, is nog ’n probleem wat van tyd tot sy kop uitsteek en dié mooi dorp se rus versteur.
Die probleem is die ordonnansies bestaan, maar word net nie toegepas nie. Die polisie en plaaslike munisipaliteit gooi net hul hande in die lug en verwag dat inwoners net die status quo moet aanvaar.
Die gevaar is dat dit is hoe volskaalse wetteloosheid begin wanneer niemand bereid is om op te staan vir wat reg is nie.


