Die 1956-matrieks van die Hoërskool Goudini het hul 65-jaar-reünie Saterdag 11 Desember op Rawsonville gehou.
Uit die klas van sewentien maats is daar nege oorlewendes (almal iets in die tagtig) van wie sewe die dag kon bywoon.
Die hoofseun, Philip Deetlefs, en hoofmeisie, Anita Everson (nou Strydom) was albei teenwoordig.
Die bekendste klasmaat was Jacobus Burger Neethling, wat later bekend geword het as die Springbok Tiny Neethling wat van 1967 tot 1970 voorry gespeel het.
’n Geliefde herinnering van die klas was ’n klas-“voorstelling”, waar ’n klas verskillende bekendes moes voorstel. Danie Jordaan (81) het ’n Springboktrui by die eerste Springbok-rugbyspeler van Goudini, Albertus van der Merwe, geleen om Chris Koch voor te stel. ’n Trui van die Britse en Ierse Leeus is saamgegee, wat deur Philip Deetlefs gedra is om Tony O’Reilly voor te stel, want albei was destyds rooikoppe.
Aangesien rugbytruie daardie tyd nog nie te koop was nie, wou elke klasmaat ’n foto in die Springbok-trui hê, onder andere Burger Tiny Neethling, min wetend dat hy self eendag sy eie groen en goud sou dra.
Flip Viljoen het by die vloot aangesluit en uiteindelik ’n skout-admiraal geword. Hy en sy gesin is na Frankryk gestuur om ’n duikboot na Suid-Afrika terug te bring nadat hy daar opleiding ontvang het. Die koop van die duikboot is weens politieke redes afgelas en hy is met leë hande bo die water terug.
Petra van der Berg, destyds die topleerder in die klas, was later ’n professor by Wits en Dawid Albertyn was op sy beurt verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
Philip Deetlefs is ’n mediese dokter in Bellville.
Albertus van Zyl het drie dogters en vier seuns, wat elk hul eie plaas besit.
Die meeste van die meisies in die klas het onderwyseresse of verpleegsters geword.
Anita Everson woon in Paarl saam met haar kinders en kleinkinders. Twee van die oorlewende klasmaats woon steeds in Rawsonville.
Ria du Toit (destyds Jordaan) se seun boer vandag op die plaas wat haar man, Wimpie du Toit, by haar pa gekoop het. Danie Jordaan boer steeds op die familieplaas, Die Straat, saam met sy seun en broerskind in Rawsonville.




