Altesaam 82 informele huise het Sondagaand in Stofland, De Doorns, afgebrand.
Standard het Maandag besoek afgelê. Talle inwoners was op die toneel waar hulle deur die puin gesoek het na enige besittings. Hulle het pale en plate probeer herwin wat nog bruikbaar was.
Volgens JP Myburg, woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), het die brandweer omstreeks 19:27 ’n oproep ontvang en die eerste voertuig het om 19:37 op die toneel aangekom.
Die oorsaak van die brand is nog onbekend.
Dit is nie die eerste keer dat ’n brand in die omgewing uitbreek nie. Dieselfde toneel het hom ook verlede jaar einde Maart afgespeel toe 60 strukture hier deur ’n brand vernietig is.



