Clint Aplon (30) van Worcester, ’n bekende akteur in Suid-Afrika se gewildste sepie, 7de Laan, stel vandeesweek sy nuwe album in sy tuisdorp bekend.
Clint is ’n gebore Worcesteriet en het sy skoolloopbaan aan Worcester Senior Sekondêr (WSS) voltooi, waarna sy ouers hom aangepor het om sy drome na te jaag.
“Ek is baie dankbaar teenoor my ouers, my familie en my meisie se familie. Baie kere laat ouers nie hul kinders toe om hul drome te volg nie, maar myne het.”
Clint, wat beter bekend is vir sy rol as Romeo Peterson in 7de Laan, vertel ook aan Standard dat Worcester en sy mense ’n groot rol in sy sukses speel.
“Aan die begin, toe ek net by 7de Laan begin het, was ek baie oorweldig. Ek het heeltyd gewonder hoe iets soos dit met iemand soos ek gebeur het. Ek kom van Worcester af en het omtrent almal geken, omdat ons so ’n hegte gemeenskap is. Almal het geweet ek hou van acting en musiek. Toe ek op televisie verskyn, was die mense nogal trots op my, en dit beteken vir my baie. Ek is baie blessed,” vertel Clint aan Standard.
Hy het met die musiek van rymkletsers soos 2pac en Eminem grootgeword, maar later plaaslike kunstenaars soos Early B en Cream Machine ontdek.
Vandaar het hy besef dat hy sy passie vir musiek en Afrikaans kan verweef en stories vertel oor sy dorp en van sy lewe, sy drome en sy taal.
“Ek hou nog altyd van rap en R&B, maar het gesukkel om Afrikaanse musiek te vind waarmee ek relate. Ek het van kleintyd af in Engels ge-rap, en toe ek later kunstenaars soos Early B ontdek, het ek besef dit is kwaai en ek kan dit mos ook doen.”
Clint stel vandeesweek sy nuutste EP, getiteld Van ’n Klein Dorp, bekend. Dit het agt oorspronklike treffers wat gaskunstenaars soos Lofi en sy suster, Joy Aplon, insluit.
Aplon en talle kunstenaars kom Saterdag (10 Desember) by Hustler’s Inn in Durbanstraat byeen. Die verrigtinge begin om 15:00 en toegang beloop slegs R40.
“Die EP handel oor verskeie dinge,” sê Clint, en verduidelik Worcester en die gemeenskap is die grootste inspirasie agter Van ’n Klein Dorp.
“Ek luister na old school– Hip-Hop en R&B. Eminem en Drake inspireer my nogal baie. Ek luister ook graag na plaaslike kunstenaars soos Loufi en Early B, maar mense sal nie juis weet dat ek tans op my playlist na die musiek Rent: The Musical en selfs High School Musical luister nie. Ek’t ’n weird musieksmaak, maar dit hou dinge interessant,” skerts hy.
Hy sê hy is baie dankbaar teenoor Worcester se mense en sy familie, vriende en diegene wat altyd in hom geglo het en hom laat voel hy kan enigiets vermag. Clint knyp homself soms as hy dink aan die sukses wat hy al behaal het.
“Veral my ouers se gebede beteken vir my baie. Ek is steeds soms geskok om terug te kyk en te sien watter sukses ek al behaal het.
“Dit is grootliks te danke aan die mense in my lewe, hoe ek grootgeword het en die harde werk wat ek ingesit het.”





