Die toneel Maandag (12 Desember) by die Hexrivier enkele oomblikke nadat ’n sewejarige seun se lyk uit die water gehaal is.Foto: JP Myburg


’n Soektog na ’n sewejarige seun van Zwelethemba het tragies geëindig nadat sy lewelose liggaam Maandag (12 Desember) in die Hexrivier gekry is.

Die seuntjie, wie se naam op versoek weerhou word weens die feit dat nie al sy familielede al bereik kon word nie, het na bewering Maandagoggend saam met maats naby die rivier gespeel toe hy vermoedelik in die water getuimel het en deur die stroom meegesleur is.

AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie het die tragiese voorval aan Standard bevestig.

“Nadat die seuntjie in die water geval het, is polisiebeamptes in kennis gestel en nooddienste sowel as polisiebeamptes het ’n soektog van stapel gestuur. Ons het die oewers gefynkam en aanvanklik niks gekry nie. Ons spanne het die liggaam sowat ’n uur later opgespoor.”

’n Nooddienswerker het op die toneel aan Standard verduidelik waar die seun gevind is.

“Die soektog het begin waar die kinders gespeel het en hy is omtrent 500 m van daar af gekry. Die swaar reën van die vorige nag het ’n groot invloed gehad op die rivier se stroom, wat versterk het, en uiteindelik die seun tot nader aan die brug gebring het. Ons kry baie sulke gevalle – veral hierdie tyd van die jaar. Dit is warm en kinders wil speel en swem, maar riviere en damme is en bly gevaarlik.”

Talle omstanders en nuuskierige inwoners het op die brug en aan die kant van die toneel toegekyk hoe die kind se liggaam verwyder word.

Een van die omstanders het vertel hulle het die seun geken en het op die toneel vir ’n voog van hom gewag.

“Hy was ’n lieflike seun en dit het heel onverwags gebeur. Ons kinders moet opgepas word, en hierdie bring trane in my oë,” het een gesê. “Ek wil hierna by my kinders uitkom en hulle net omhels. Hulle het ’n vriend verloor, maar ek vrees vir die dag wat ek hulle dalk ook kan verloor.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article