Ouers wat hul kinders by HTS Drostdy wou inskryf, is ontsteld omdat die skool sê hy het net plek vir 200 nuwe graad 8-leerders.
Ouers is ook vies oor hoe leerders wat wel aanvaar is, ingedeel word.
In ’n stemnota wat aan Standard gestuur is, word beweer die skool se hoof het gesê die skool sal 130 koshuisleerders aanvaar, en die res sal kinders van die dorp wees.
’n Ander ouer wou weet hoekom die getal kinders wat aanvaar word, nie 100 koshuiskinders en 100 dorpskinders kan wees nie.
Louis Steijn, Drostdy se hoof, sê hy het die stappe gevolg soos voorgeskryf deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement.
“Ek het alles volgens die toelatingsbeleid gedoen, soos dit deur die departement voorgeskryf is. Die feit dat ons een van twee tegniese skole hier is, speel ook ’n rol. Kinders van ander dorpe doen hier aansoek en moet dus in die koshuis tuisgaan. Ek moet ook dink aan die persentasie seuns en meisies wat aanvaar word. Dit gaan ongelukkig nie oor wie eerste aansoek gedoen het nie,” het Steijn verduidelik.
Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die onderwysdepartement, het die skool meer as 650 aansoeke vir volgende jaar se graad 8-klas ontvang.
“Dit is nie waar dat leerders wat vir die koshuis aansoek doen, voorkeur kry nie. Indien ouers nie tevrede is met die uitslag van hul aansoek nie, kan hulle appèl aanteken en skriftelik by die beheerliggaam motiveer dat hul aansoek heroorweeg word. Ouers word aangeraai om te versoek dat die leerder op ’n waglys geplaas word, aangesien plek nog kan oopgaan. Dit is omdat ouers nog tot 17 Junie het om ’n plasing te bevestig. Sommige leerders is ingelig oor suksesvolle aansoeke by ’n verskeidenheid skole, maar sal uiteindelik net een plek opneem.”
Om hierdie rede raai Hammond ouers aan om hul keuse so gou as moontlik aan te dui, sodat ander leerders die geleentheid by ’n betrokke skool kan kry. Sy sê ook die WKOD sal later in die maand die keuse van skole outomatiseer.
“Ná 17 Junie sal die WKOD die keuse van skole outomatiseer op grond van ouers se voorkeurkeuse op die lys. Skole sal dan met sekerheid kan weet wie plekke aanvaar het of nie. Hierna, as ’n ouer ’n beroep op die provinsiale minister van onderwys wil doen, kan hulle.”
Ouers wat met die plasing van hul kinders sukkel, word na die WKOD se distrikskantoor verwys.
“Die distrikskantoor sal ouers met die plasing van leerders bystaan, maar nie noodwendig by die skool van hul keuse nie,” sê Hammond.




