Ná ’n loopbaan van langer as 41 jaar in die gevangenisdiens op Worcester roep dr. Barry van der Westhuizen die departement van korrektiewe dienste vaarwel toe – maar net omdat hy moet.
Van der Westhuizen tree vandag (Donderdag 30 Junie) af bloot omdat hy 60 is en aftree-ouderdom bereik het.
Hy is op 5 Januarie 1981 ingevolge die destydse SA Gevangenisdienswet aangestel en sê hy het sy lang loopbaan baie geniet.
Omdat hy dit as jong man as ’n loopbaan gekies en tot sy aftrede daarmee volgehou het, is baie van wat hy vandag weet en besit net aan dié diens te danke. Dit is om dié rede dat hy die departement en sy mense baie sal mis.
Hy sê hy het in ’n baie unieke era vir korrektiewe dienste gewerk. Toe hy in 1981 by die Worcester-gevangenis begin het, was daar twee verskillende ingange na die administratiewe kantoor – een vir blanke beamptes en een vir nieblanke beamptes.
Verskillende uniforms is gedra en wit en bruin was op verskillende salarisskale.
Tydens Suid-Afrika se oorgang na demokrasie was hy die hoof van die personeelafdeling en dit het baie uitdagings teweeg gebring. Die vul van poste en behuising op die terrein is maar enkele voorbeelde van dié uitdagings. Die kennismaking met vakbonde wat hierdie veranderings gedryf het, het hom ook gou laat besef dat verandering baie nodig was, maar ook baie omsigtig hanteer moes word.
Nou, 41 jaar later, kan hy aftree uit ’n departement wat ten volle getransformeer is en wat moontlikhede vir alle werknemers bied, sê hy.
Van der Westhuizen is trots om te kan sê dat hy “onder” begin het en – deur nagdiens en span-diens te werk – deur die jare heen die leer geklim het tot waar hy vandag is. Dit was ’n harde en moeilike pad, maar uiteindelik die moeite werd.
Kwalifikasies en benadering
Van der Westhuizen is aangestel die jaar nadat hy in 1980 aan die HTS Drostdy gematrikuleer het. Hy het in 1990 met sy BA-graad in kriminologie en penologie begin en dit in 1995 behaal.
Danksy sy persoonlike mikpunte het hy in 1997 sy honneursgraad, in 2000 sy meestersgraad en in 2005 sy doktorsgraad (DLitt et Phil) aan Unisa verwerf.
Op ’n persoonlike vlak het dit vir hom baie beteken, maar hy sê met sy verskuiwing van die personeelafdeling na die paroolraad het hierdie kennis en agtergrond hom daagliks gehelp om beter besluite te neem.
Van der Westhuizen sê in al die afdelings waar hy al gewek het, het hy altyd sy beste gegee en die werk – uitdagings en al – baie geniet.
Die laaste 17 jaar by die paroolraad was egter vir hom uitsonderlik. Hy sê misdaad in Suid-Afrika bly ’n baie komplekse en uitdagende kwessie. Hoe die land misdaad, misdadigers en slagoffers hanteer, sal hom altyd na aan die hart lê. Hy tree nou wel uit as ’n korrektiewe beampte, maar sal altyd ’n penoloog bly, met albei oë gerig op misdaadpatrone en die gepaste straf vir misdaad in Suid-Afrika.
Hy glo die jeug moet tot toekomstige leiers ontwikkel word, maar ook die opleiding van personeel, motivering om verder te studeer en die korrekte plasing van mense in poste, is van die aspekte wat aandag moet kry om die departement verder uit te bou.
Hy bedank al sy kollegas vir die getroue ondersteuning en vriendskap wat hy deur die jare beleef het en sê dit was ’n eer om een van die span te kon wees.
Hy het ook sy vrou, Annelise, bedank vir al die aande en naweke wat hy sy familie tweede moes stel om belangrike werk te kon voltooi.
“Alle eer ook aan my Skepper wat my gesondheid en deursettingsvermoë gegee het om my roeping te volbring.”


