Die Bhuru Remusha langafstandbus wat vanaf Zimbabwe na Kaapstad gereis het, het op Saterdag 19 November op die N1 omgekeer. Foto’s: One Way Towing


Agt-en-dertig mense is Saterdagoggend (19 November) beseer toe die bus waarin hulle gery het op die N1 omgeslaan het.

Ongeveer 55 persone het in die Bhuru Remusha langafstandbus vanaf Zimbabwe na Kaapstad gereis. Enkele kilometers buite die Hugenote-tonnel op die N1, het die bus in die rigting van Worcester omgeslaan.

Dit is nog onseker wat die oorsaak van hierdie ongeluk was, maar owerhede wat op die toneel was sê dat ’n ondersoek na die ongeluk geloods is.

Die woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, Jandré Bakker, het die voorval aan Standard bevestig.

“26 Pasiënte, waarvan drie ernstig beseer is, is na Worcester-hospitaal geneem. 12 Ander pasiënte wat ligte beserings opgedoen het is na die Paarl-hospitaal geneem, terwyl 17 insittendes mediese hulp geweier het.”

Annie Sibanda (48), wat afkomstig is van Mutare in Zimbabwe en deesdae in Bellville werksaam is, is een van die insittendes wat in die ongeluk betrokke was. Sy het vlugtig met Standard gesels toe sy by Worcester-hospitaal vir haar vriendin gewag het. Sibanda het mediese hulp geweier.

“Ek het teruggekeer vanaf Zimbabwe na ek paar weke gelede huistoe was. Ons was nogal baie mense op die bus gewees. Ek werk al meer as 20 jaar in Suid-Afrika en bly ’n paar maande al in die Kaap. Dit is die eerste keer wat ek met hierdie gery het. Ons het nog rustig gery en toe skielik hoor ons ’n groot slag. Die volgende oomblik het die bus omgeslaan en almal het begin gil.”

Sibanda voeg by dat sy geen idee het wat tot die ongeluk gelei het nie. Hierna het die passasiers gespook en gespartel het om uit die wrak te klim.

“Jy weet nie of iemand dood is nie. Jy weet nie eens wat eintlik gebeur het nie. Die polisie en verkeer was vinnig op die toneel en die ambulanse net na hulle. Dit kon baie erger gewees het. Ek is bly ek het lig daarvan afgekom en bid dat die ander ook anderkant uitkom.”

Provinsiale minister van mobiliteit, Daylin Mitchell, het aan Standard bevestig dat hy ook die toneel besoek het.

“Alhoewel ek verlig is dat daar geen sterftes op die toneel was nie is dit belangrik om kennis te neem van hierdie voorvalle. Publieke vervoer drywers het ’n groot verantwoordelikheid wat op hul skouers rus. Hulle moet besef dat hulle elke sekonde die lewe van ’n ander mens in hul hande het. Publieke vervoer sal altyd vir my van belang wees en veral nou waar ons regmaak vir die feesseisoen. Ons sal ook ’n geen toleransie aanslag hê as dit kom by padgebruik en dokumentasie.”

Die pad was aan die eenkant vir verkeer gesluit gewees, maar is intussen weer oopgestel.

Geen sterftes is aangemeld nie, maar 38 van die 55 passasiers het seergekry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article