Uga Carlini (vervaardiger en regisseur by Towerkop Creations) spreek leerders toe oor hoe om jou idee vir ’n rolprent aan vervaardigers voor te lê.


Bykans 30 leerders uit die Paarl, Ceres, Worcester, Kylemore, Durbanville en Stellenbosch het onlangs drie praatjies oor vervaardiging, produksiebestuur, hoe om jou rolprent aan vervaardigers voor te stel en produksieontwerp (stel- en kostuumontwerp, grimering en haarstilering) by Paul Roos Gimnasium bygewoon.

Hoewel dié Filmit-fees, Shop Talk Sessions, eintlik vir finaliste in die feeskompetisie aangebied word, is dit ook teen ’n fooi oop vir hoërskoolleerders van die Wes-Kaap wat belangstel om rolprente te maak.

Die bedryfskenners Lynne-Anne Vosloo (uitvoerende hoof by Moonlighting Films), Uga Carlini (regisseur, vervaardiger en skrywer by Towerkop Creations), Christian Joubert (produksie-ontwerper), Marné van der Burgh (kostuumontwerper) en Louiza Calore (grimeerkunstenaar en haarstilleerder) het die Shop Talk Sessionsaangebied. Leerders het die geleentheid aangegryp om vrae aan die kenners te rig en só in kreatiewe gesprek met hulle te tree.

Die tweede sessie in die reeks is op 4 Junie aangebied, waar die regisseur Nina Swart – bekend vir haar werk Temptation Island, Die Boekklub en Fynskrif – haar kennis met die leerders gedeel het. Haar sessie is gevolg deur ’n praatjie oor die skryf en ontwikkeling van draaiboeke, en is aangebied deur René en Corné van Rooyen, wat bekend is vir hul uitstaande werk in die bekroonde plaaslike fliek Vaselinetjie.

Die laaste in die reeks is hierdie Saterdag (18 Junie; tussen 09:00 en 15:00).

Onderwerpe soos kamera en film, redigering, animasie, die maak van musiekvideo’s, musiek en flieks, klankproduksie en toneelspel vir die kamera sal behandel word. Jong volwassenes met ’n belangstelling in die maak van flieks en wat die sessies wil bywoon, kan Luna Paige by media@paulroos.co.za kontak.

Alle Shop Talk Sessionsword opgeneem en verfilm en die eerstes is reeds op die Filmit Festival se YouTube-kanaal beskikbaar gestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article