Hy het Saterdagnag gesukkel om te slaap en besluit om buite te gaan rook. Nicolaas Joe het skaars sy sigaret aangesteek toe hy ’n geweldige harde slag hoor.
Kort nadat die 52-jarige Joe van Buitekantstraat in Worcester se vriendin, Bernadine Pieterse (30), buite by hom aangesluit het, sê hy vir haar: “Weet jy, ek dink amper nou ek het ’n ongeluk gehoor gebeur, maar is nie seker nie. Dit was ’n harde slag. Ek hoop nie dis iemand bekend nie.”
Min het Joe in daardie stadium geweet dat die slag wat hy gehoor het, ’n noodlottige ongeluk was waarin sy seun, Arlex Joe (30), op slag dood is.
Die ongeluk het omstreeks 03:00 naby die Worcester-gevangenis plaasgevind toe die voertuig wat Arlex bestuur het, ’n boom getref het nadat hy beheer daaroor verloor het.
Arlex was op pad terug huis toe nadat hy vriende op Brandvlei gaan aflaai het toe die ongeluk gebeur het.
’n Hartseer Nicolaas het aan Standard Breederivier Gazette gesê ’n halfuur nadat hy die slag gehoor het, het ’n onbekende man en ’n neef van Arlex, Gershwin Jacobs, in ’n bakkie voor sy (Nicolaas se) huis stilgehou.
“Die ou sê toe vir my ‘Oom, ek dink amper dis oom se seun wat nou in ’n ongeluk was hier by die Worcester-gevangenis’.”
Nicolaas vertel hy het hom onmiddellik na die ongelukstoneel gehaas.
Hy sê ’n polisiebeampte het hom op die toneel meegedeel sy seun is op slag dood.
“Arlex wou nie gery het nie. Hy het vir daardie mense ’n lift gesoek om hulle huis toe te neem. Toe hy niemand kry nie, het hy besluit om hulle self weg te neem,” vertel Nicolaas se oudste kind, Danolene Isaacs (34).
“Soos dit vir my lyk, het die kar se regterkant se CV joint gebreek. Daar is geen briekmerke nie. Hy het nie kans gehad om briek te trap nie. Daai kar het gegly met hom teen daai boom vas en dit was ’n harde slag. Die enjin is met die impak uit die kar geruk,” het Nicolaas die ongeluk verduidelik.
“Ek gaan my laaitie baie mis. Hy was die perfekte laaitie.”
Arlex se ma, Bushraa Jason, sê sy het nie woorde nie. “Maar ek gaan my kind baie mis. Hy het my baie geterg. Toe ek hom die laaste keer gesien het, toe sê hy nog vir my ‘I love you mom’, toe is hy uit by die deur,” het die 53-jarige Jason gesê.
“Ek gaan my swartkopkind baie mis.”
Arlex, ’n paneelklopper en spuitverwer, het tot sy dood by M&N Bakwerke in Worcester gewerk.
Hy was die pa van drie kinders van onderskeidelik 11, 9 en 3.
. Arlex se begrafnisdiens is Saterdag (21 Desember) om 09:00 by sy ouerhuis by Buitekantstraat 311 en om 10:00 in die VGK Worcester-Suid.





