Drie mense is tussen 5 en 7 Augustus in onverwante voorvalle in De Doorns vermoor.
Twee van die oorledenes is geskiet en die derde is noodlottig gesteek.
Die eerste voorval het op Saterdag 5 Augustus om 20:50 in die GG Kamp in Sandhills plaasgevind.
“Die oorledene en sy familie het buite hul huis rondom ’n vuur saam met ander gesit. Die verdagte in die saak het ook by die vuur kom staan en was bedek met ’n kombers en het ’n klapmus oor sy gesig gehad,” verduidelik ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie.
Volgens ooggetuies het die verdagte omtrent tien minute daar gestaan.
“Toe ruk hy ’n vuurwapen uit en rig dit op die 38-jarige oorledene, Simphiwe Ngwane. Hy het op niemand anders van die mense wat teenwoordig was, geskiet nie. Die vermoede is dat dit verband hou met taxigeweld, maar dit is in hierdie stadium nog nie bevestig nie.”
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
In die tweede voorval op dieselfde dag is ’n man se lyk in Stofland gekry.
“Die liggaam van ’n 19-jarige man, Ronoko Moteane, is deur ’n verbyganger gevind. Die man is doodgeskiet en daar gelos. Dit is egter onduidelik wie die man geskiet het en waarom hy geskiet is. Enigeen met inligting oor die voorval kan die polisie anoniem kontak.”
Hannes Geduld (43) is Maandag 7 Augustus glo deur sy 50-jarige vriendin met ’n halwe skêr in GG kamp gesteek.
“Die paartjie het Maandagoggend vroeg begin stry. Die oorledene het sy vriendin teen die kop geslaan en toe steek sy hom met die stukkende skêr. Die verdagte in die saak het al voorheen talle sake van mishandeling by die polisie teen die oorledene aanhangig gemaak. Sy is ná die steek- voorval in hegtenis geneem.”

