Langerugskool pronk weer trots met ’n 100%-matriekslaagsyfer vir 2023.Foto:

Credit: SYSTEM

WORCESTER – Langerugskool, ’n skool in Worcester vir kinders met spesifieke leerhindernisse, het met die 2023-matriekuitslae weer eens ’n 100%-slaagsyfer behaal!

Die topdrie-kandidate van hierdie jaargroep was André Jansen, Lee-Ann Rheeder en Elaine Zeeman.

André is ook onlangs (op 5 Februarie) by die Kaapse Wynland-onderwysdistrik se Toppresteerderstoekennings vir sy besondere prestasie vereer.

Die personeel van hierdie spesialisskool is nie net ’n bietjie trots nie. Sedert Langerugskool se bestaansjaar het slegs een leerder vanweë persoonlike omstandighede nie die NSS-eksamen suksesvol voltooi nie.

Wat hierdie prestasie nog meer besonders maak, is dat Langerugskool dieselfde kurrikulum as hoofstroomskole volg en ook dieselfde NSS-vraestelle skryf.

Daar is verskeie redes waarom leerders eerder by Langerugskool onderrig ontvang. Dit strek van breinbeserings tot neuro-ontwikkelingstoestande, lees- en spelhindernisse en vele meer.

By Langerugskool word hierdie leerders egter op so ’n wyse ondersteun dat hulle hul volle potensiaal kan bereik.

Ondersteuning vind onder meer plaas in die vorm van tegnologie (lees- en spraak-tot-teks-programme), akkommodasie (lesers, skrywers, aanmoedigers, addisionele tyd), terapie, kleiner klasse en hulp met organisatoriese vaardighede.

Een van die onlangse suksesstories is ’n 2023-matriekleerder wat ten spyte van taalhindernisse ’n A-simbool vir Afrikaans Addisionele Taal en ’n B-simbool vir Engels Addisionele taal gekry het.

Dit getuig van deursettingsvermoë en toewyding van leerders, ouers en onderwysers.

’n Bundel suksesverhale kan by die skool saamgestel word – elk ’n storie van hoop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article