Nóg moorde teister die afgelope paar dae die gemeenskap van De Doorns.
Oor die naweek is ’n 24-jarige man noodlottig buite ’n kuierplek gesteek.
“Die voorval het omstreeks 22:50 op Sondag 17 Maart plaasgevind. Die polisie het ’n klagte oor ’n man wat in Lubisi noodlottig gewond is, ingedien. Hy het een steekwond in sy nek gehad en is op die toneel dood verklaar,” verduidelik ’n De Doorns-polisiewoordvoerder.
Volgens ooggetuies wat saam met die oorledene, Tlali David Lefaso, gekuier het, het hy vir hulle gesê hy wil gou die toilet gebruik.
“Toe hy uitgaan om die toilet te gebruik het daar amper onmiddellik mense na hom toe gehardloop, volgens die mense wat saam met hom gekuier het. Toe hulle uitgaan om te kyk wat gebeur het, het hy op die grond gelê met ’n steekwond,” sê die woordvoerder.
Die ooggetuies wou eerder nie uitbrei oor wat gebeur het toe die polisie hulle ondervra het nie.
In ’n afsonderlike voorval is ’n winkeleienaar Maandagaand om 21:30 doodgeskiet.
“Die man was die eienaar van ’n spazawinkel in Stofland. ’n Man wat in die winkel werk, het skote gehoor terwyl hy agter in die winkel besig was. Toe hy uiteindelik gaan kyk, het hy die eienaar dood aangetref. Die eienaar het mense deur ’n opening in die winkel se hek gehelp en is deur dieselfde opening geskiet. Die skieter het nie probeer om by die winkel in te breek of om enigiets te steel nie,” verduidelik die woordvoerder.
Niemand is nog vir een van die moorde in hegtenis geneem nie.

