Nicevonia Arendse (links) het onlangs aan drieling by die Worcester Hospitaal geboorte gegee. By hulle is suster Taylia America.Foto: Verskaf


Die personeel by die Worcester-hospitaal het 23 Mei die eerste drieling in byna tien jaar hier verwelkom nadat Nicevonia Arendse (32) van Worcester geboorte geskenk het aan drie pragtig seuns – Luke, Riley-Cornecia en Liam.

“Ek was bietjie ge-rattle. Kan ek van alle mense nou drie wil kry?” het Nicevonia ’n paar dae ná hul aankoms gesê terwyl sy een baba borsvoed, die tweede troos en ’n kombersie oor die derde een trek.

Sy het haar eerste afspraak vir ’n sonar misgeloop en toe later in haar swangerskap uitgevind dat daar drie hartkloppies is. “Ek het stil gaan sit en vir die Here gevra: Wat nou? Toe besef ek Hy sal nie iets oor my pad bring sonder om my deur dit te help nie.”

’n Paar dae nadat sy haar twee seuns en een dogtertjie die eerste keer vasgehou het, voel sy rustiger. Tuis het sy die hulp van haar lewensmaat en sy ma.

Die personeel deel haar vreugde, veral suster Taylia America wat by was tydens die keisersnit. “Ons was baie opgewonde. Gewoonlik word mammas wat meer as een baba op ’n keer verwag na Tygerberg-hospitaal verwys,” sê sy.

Ná konsultasie met Tygerberg is bepaal dit sou vir Nicevonia veilig wees om haar babas met ’n keisersnit hier te hê.

Binne die eerste paar dae het die drieling ook hul inenting teen TB en polio gekry. Sr. Hilary O’rie, die waarnemende assistent-bestuurder van verpleging by die Worcester Hospitaal, sê borsvoeding, liefde, vertroeteling en die ondersteuning wat immunisering bied, is baie belangrik.

“Die eerste 1 000 dae is ’n kritieke tyd vir intervensie,” verduidelik sy.

Die eerste 1 000 dae is die tyd vandat bevrugting plaasgevind het tot die baba se tweede verjaardag.

“Die sorg wat ons in hierdie tyd gee, het ’n groter invloed op die kind se gesondheid as wat dit in enige ander stadium kan hê. Die kind se gesondheid is kwesbaar, want sy immuunstelsel is ‘naïef’ – dit word gekonfronteer deur baie nuwe mikro-organismes.”

Behalwe dat borsmelk die baba ’n mate van beskerming teen siektes gee, is inenting nodig om die risiko vir infeksies en die ernstige gevolge daarvan te beperk.

Só kan jy mammas help

. Moedig mammas aan om hul baba die eerste ses maande slegs te borsvoed en prys haar elke keer met die voedings;

. Pa’s kan help deur doeke te ruil en na die baba om te sien sodat die mamma kan rus;

. Die geboorte van ’n baba kan ’n emosionele tyd wees. Wys jy gee om deur geduldig te luister en te vra hoe jy kan help;

. Sit hand by sodat mammas na hul naaste kliniek kan gaan. Die eerste inentings word kort ná die baba se geboorte gegee, maar daarna moet die mamma gereeld die kliniek besoek sodat die baba se groei gemonitor kan word, nóg inentings gegee kan word en gesondheidswerkers kan seker maak die mamma herstel goed en pas aan; en

. Help met take in die huis sodat die mamma op die baba kan fokus.

Nicevonia se familie sien uit daarna dat sy en die drieling huis toe kom.

Hulle was Maandag (3 Junie) nog in die hospitaal, aangesien een van die babas ’n lae gewig by geboorte gehad het.

“Hulle is klein, maar hulle is woelig. Tog kry ek rus. As hulle gevoed is, dan slaap ons,” sê Nicevonia. “Ons as mammas moet sterk staan. As jy moedeloos voel, vertrou in God.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article