Keenan Daniels, wat as speler van die toernooi aangewys is.

Credit: SYSTEM

Die vlakkiekrieket-gemeenskap in Worcester het verlede Sondag hul liefde vir die sportsoort gevier toe die Roodewal-premierliga se eindstryd gespeel is.

Drie eindstryde is op dié dag beslis en krieket het in al drie wedstryde geseëvier.

Clovers o.14-span het die junior eindstryd gewen terwyl Orchard United die vroue-eindstryd gewen het.

In die eindstryd op ’n volgepakte Edengarden het Quickies teen Orchard United kragte gemeet. Quickies het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.

Quickies het stadig begin, maar ’n heel skaflike 72 lopies van sy 90 balle bereik. Eastwin van der Westhuizen (34 lopies) het met die kolf vir Quickies uitgeblink. Hy is goed deur Donovan van Rooi (28) bygestaan.

In sy jaagtog het Orchard wankelrig begin met twee leë boulbeurte wat deur Quickies afgedwing is. Die boulers Ashwin Lukas en Keenan Daniels was gevaarlik met die bal en het verwoesting gesaai. Daniels het vyf paaltjies in sy drie boulbeurte vir slegs 11 lopies geneem, wat hom die titel as bouler van die toernooi besorg het.

Hy het ook die prys as beste veldwerker gewen nadat hy Orchard se kaptein, Sherwin Christiaans, op dramatiese wyse vir ’n nulletjie uithardloop het, wat die wedstryd in Quickies se guns geswaai het.

Die 15-jarige Daniels is ook as speler van die toernooi aangewys nadat Quickies as wenner van die toernooi uit die stryd getree het.

Die junior uitblinker was Fernando Adams terwyl die vroue-uitblinker Aniscka Daniels (Keenan se suster) was. .Roodewal hou die naweek sy jaarlikse Paasfees-toernooi. Altesaam 20 spanne sal aan wedstryde deelneem wat Vrydag, Sondag en Maandag gespeel sal word. Vir inligting oor deelname bel Japie Visser by 065 013 6508.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article