Die Worcester-polisie ondersoek ’n saak van verkragting waarby ’n 16-jarige meisie en verskeie minderjarige seuns betrek word.

Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie, het die 16-jarige verstandelik gestremde meisie die klagte aangemeld nadat ’n video van haar en ’n seun glo die rondes begin doen het.

“Hierdie is ’n ingewikkelde saak. Volgens inligting het die meisie glo gereeld na ’n spesifieke plek gegaan en aan seksuele aktiwiteite met ander minderjarige seuns deelgeneem.

“Dit was glo konsensueel – al die vorige kere. Ná die laaste keer wat dit gebeur het, het sy dit egter by die polisie kom aanmeld omdat ’n video van die dade gemaak is,” sê Jacobs.

Omdat die meisie verstandelik gestremd is, moes sy ook ’n forensiese maatskaplike werker sien sodat daar vasgestel kon word wat presies haar mediese diagnose is voordat die ondersoek verder kon gaan.

Sy het glo Maandag ’n afspraak by ’n maatskaplike werker in die Kaap gehad. Dit is in hierdie stadium nog nie bekend wat die terapeut se bevinding was nie.

’n Forensiese maatskaplike werker is iemand met die rang van kaptein, met ’n minimum kwalifikasie van ’n meestersgraad en tien jaar ondervinding in die polisiediens.

Hy/sy is in staat om die meisie te assesseer om ’n verklaring op te stel en kan ook ’n opinie in die hof gee.

Al is dit moontlik dat die seksuele aktiwiteite tussen die minderjariges met wedersydse toestemming plaasgevind het, is dit steeds onwettig, sê ’n regskenner.

“ ’n Verstandelik gestremde kan nie toestemming gee tot seks nie. Daar is spesifieke beskerming in die Wet op Seksuele Misdrywe vir verstandelik gestremdes wat dit ’n oortreding maak om seks met hierdie meisie te hê, al sê sy met haar mond ja.

“Daar is ook ’n moontlikheid van seksuele uitbuiting in hierdie situasie, ook onder die Wet op Seksuele Misdrywe, want daar is die moontlikheid dat sy met geld of dwelms of iets omgekoop kon word.”

Die regskenner voeg by al was die verstandelike gestremde meisie moontlik in ’n verhouding, kan dit steeds as verkragting gesien word – “weens die feit dat sy nie oor die nodige kognitiewe vermoë beskik om toestemming vir seks te kan gee nie; daarom is dit steeds verkragting. Haar verstandelike gestremdheid maak haar meer weerloos.”

Jacobs sê die polisie is steeds besig met die ondersoek en sal binnekort inhegtenisnames maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article