Saterdag 25 November het die begin van 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders ingelui.
Geslagsgebaseerde geweld (GBV) is iets wat aaneenlopend groot kommer in gemeenskappe wek. Tydens die 16-dae-veltog, wat van 25 November tot 10 Desember strek, wil die polisie graag mense bewus maak, opvoed en aanmoedig.
“Geslagsgebaseerde geweld is nie net wanneer vroue en kinders mishandel word nie, maar ook wanneer mans dieselfde ervaar. Ons wil mense aanmoedig om GBV-sake by die polisie aan te meld, selfs al is jy ’n man of ’n lid van die LGBTQIA+-gemeenskap – dit word steeds as geslagsgebaseerde geweld beskou. Hierdie sake móét aangemeld word,” sê sers. Lizelle Heyns, die Worcester-polisie se koördineerder vir sake oor gesins- en geslagsgebaseerde geweld.
“Ons deur is oop vir almal. Ons wil graag ook mans motiveer om te praat wanneer hulle mishandel word of die slagoffer van geslagsgebaseerde geweld is, want vir hulle is dit makliker om liewer aan die drink te gaan, en dan veroorsaak dit groter probleme.”
Sy verduidelik ook wanneer ’n slagoffer van geslagsgebaseerde geweld ’n klagte by die polisie aanmeld, het hulle die reg om direk vir die gesins- en geslagsgebaseerde-geweld-koördineerder te vra.
“Dit is nie altyd maklik om so ’n saak aan te meld nie. Die polisiekantoor is soms bedrywig wanneer mense daar aankom. Ek is daar om mense weg te neem, waar ons dan in die slagofferbemagtigingskamer kan gaan praat of op ’n plek waar die slagoffer gemaklik voel. Elke polisiekantoor het iemand soos ek en ’n slagofferbemagtigingskamer om dit makliker te maak vir slagoffers om sake van GBV aan te meld.”
Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders in samewerking met plaaslike polisiekantore asook die Wes-Kaapse regering begin.
“Die voortdurende wyse waarop ons vroue en kinders geviktimiseer word, is ’n weerspieëling van die behoefte aan intervensies in hierdie ruimte. Terwyl ons die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders onder die tema ‘Laat niemand agter nie’ waarneem, is ons verplig om die dringende behoefte aan kollektiewe optrede aan te pak om ’n veiliger gemeenskap te bevorder. Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit bly daartoe verbind om hierdie euwel wat ons samelewing teister, te bekamp,” sê Elna von Schlicht, die burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit.
Verskeie programme en werksessies is deur die munisipaliteit gereël.
“Ons bied regdeur ons distrik verskeie programme, aktiviste-geleenthede en werksessiess aan, wat daarop gemik is om geslagsgebaseerde geweld die hoof te bied en te help voorkom. Dit is ons gedeelde verantwoordelikheid om ’n omgewing te kweek waar almal veilig, gerespekteer en vry van die bedreiging van geweld voel.
“Laat ons saam ’n kultuur van empatie-ondersteuning en bemagtiging skep wat niemand agterlaat in ons strewe na ’n veiliger en meer inklusiewe samelewing nie,” sê Von Schlicht.

