Met die begin van 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders is ’n 15-jarige meisie verlede Vrydag (25 November) herhaaldelik deur twee mans verkrag.

Die twee aanvallers, ’n 17-jarige en ’n 20-jarige, het Vrydagaand by ’n huis in Avianpark ingebreek terwyl die slagoffer en haar negejarige broertjie geslaap het.

“Die kinders se pa het by die bure gaan kuier en die kinders in die huis toegesluit. Hy het later van die bure af terug huis toe gegaan, en gesien die huis se deur staan oop.

Hy het ook stukkende glasbottels op die grond sien rondlê,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.

Die man het onmiddellik gaan kyk waar sy kinders is.

“In sy seun se kamer het hy gesien die seun slaap nog, maar sy dogter was nie in haar kamer nie en hy het bekommerd geraak.

“Terwyl hy na sy dogter gesoek het, het een van sy bure, wat saam met hom was, uitgewys dat iemand onder ’n tafel in die huis sit. Dit was een van die vermeende inbrekers met ’n mes in sy hand.”

Die pa het sy buurman gevra om die polisie te ontbied omdat hy nie sy foon kon opspoor nie.

“Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle die slagoffer ondervra en sy het aan hulle gesê die mans het by hul huis ingebreek en by haar kamer ingegaan. Sy het gesê die man met die mes het haar vir haar selfoon en geld gevra.”

Elk van die twee inbrekers het haar toe herhaaldelik verkrag en gedwing om seksuele dade met hulle te doen.

Die vermeende verkragters het albei Dinsdag (29 November) in die hof verskyn en sal weer Donderdag 8 Desember verskyn.

Volgens betroubare inligting wat Standard bekom het, was die 17-jarige voorheen by ’n moordsaak betrokke.

Albei verdagtes bly in aanhouding tot hul volgende verskyning.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article