Altesaam 77 volwassenes en 62 kinders is hul wonings kwyt nadat ’n verwoestende brand ’n blok in Lubisi, De Doorns, verwoes het.

Volgens Juben von Willingh, onderburgemeester van die BVM, het die nood-bevelsentrum die oproep oor die brand om 23:40 ontvang.

“Ek is onmiddellik uit na die brand. Die wind het daai aand definitief ’n rol gespeel in hoe vinnig en hoe ver die brand versprei het. Ek moet ook net melding maak dat die bekwame brandbestryders die brand vinnig in bedwang gebring en die vlamme geblus het. Ons het ook hulp van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdiens ontvang,” verduidelik Von Willingh, wat ook in De Doorns woon.

Volgens AO Godfriedt Titus, ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie, het sowat 100 informele strukture op die betrokke aand uitgebrand.

“In hierdie stadium is dit nog nie bekend hoe die brand ontstaan het nie. Geen beserings of sterftes is as weens die brand aangemeld nie,” het Titus gesê.

Von Willing se egter die aantal informele strukture wat geraak is, is sowat 60.

“Volgens die lys wat ons gekry het, is 27 gesinne deur die brand geraak. Die gesinne wie se huise gebrand het, wissel van twee tot agt bewoners. Ongeveer 30 plotte is deur die brand getref, en daar is dus ook gevalle waar meer as een informele struktuur op ’n plot is.”

Verder verduidelik Von Willing die munisipaliteit sal wel hulp aan dié wat deur die brand geraak is verleen.

“Ons gaan die mense met starter packs help om sodoende hul strukture te help herbou. Omdat ons nuwe boekjaar eers onlangs begin het, sal die geld daarvoor eers ná die 15de beskikbaar wees. Ons het ook na die KWDM uitgereik vir hulpverlening.

“Party mense het reeds hul wonings begin herbou – sommer kort nadat die brand geblus is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article