Dit blyk of daar lig aan die einde van die tonnel is vir ’n 12-jarige seun van Worcester wat geen geboortesertifikaat het nie.
Worcester Kindersorg in die dorp het nou die seun se oupa “aan die hand gevat” en gaan hom in die proses bystaan om die geboortesertifikaat te verkry.
Standard het vroeër berig oor die 12-jarige Geraldo wat nog nooit sy voet in ’n klaskamer gesit het nie omdat hy nie ’n geboortesertifikaat het nie. Hy het ook nie ’n amptelike van nie.
Louis Mpinda, Geraldo se oupa, het verlede week gesê Geraldo kan nêrens gaan sonder ’n geboortesertifikaat nie. Hy weet nie hoe dit voel om op skooluitstappies saam met skoolmaats te gaan nie en ken nie die gevoel van ’n eerste dag op skool nie.
Mpinda sê hy sorg vir sy kleinkind en is dankbaar dat Geraldo nog nooit siek geword het nie.
“Toe my vrou sterf, was dit net ek alleen. Geraldo het ’n pa en ma, maar hulle werk nie en gebruik dwelms. So, hy verkies om by my te wees. Ek is nou sy ma, pa, oupa en ouma,” het Mpinda gesê.
Worcester Kindersorg het hom aan die hand gevat en binnelandse sake gekontak.
“Hulle sê hulle gaan kyk of hulle my kan help. Die maatskaplike werker was by binnelandse sake en hulle het belowe dat iets uitgereik sal word, maar hulle sal my moontlik eers teen Donderdag laat weet. Ek was reeds by die hospitaal en die dokter het my ook ’n vorm gegee om in te vul. Ek moet dan die vorm vir die maatskaplike werker neem. Ek hoop maar hulle kan my spoedig help,” sê Mpinda.
Hy sê hy wil steeds weet hoekom Geraldo se geboortesertifikaat nie uitgereik kan word op sy pa se naam nie.
“Aangesien ons nie die ma se besonderhede het nie, kan hulle mos maar die pa se besonderhede gebruik, want ons het al sy inligting,” sê Mpinda.
Ronel Johannesen, die inwoner van Riverview-woonstelle wat Standard aanvanklik oor Geraldo se penarie ingelig het, sê sy is dankbaar dat Geraldo nou gehelp gaan word. Johannesen sê sy is al ’n geruime tyd bekommerd oor Geraldo se situasie. Mpinda vra nou die gemeenskap van Worcester om hom by te staan deur middel van kospakkies, aangesien hy sy werk verloor het en voltyds na Geraldo omsien.




