Die opwinding loop reeds hoog vir die Women of Excellence-toekennings wat vanjaar die tweede agtereenvolgende keer in Worcester aangebied gaan word.

Dié rooitapyt-glansgeleentheid, wat op 28 Oktober by Kleinplasie sal plaasvind, se doel is om vroue wat op ’n gereelde grondslag dinamiese en onbaatsugtige werk in hul gemeenskappe verrig, maar nooit erkenning daarvoor ontvang nie, in die kollig te plaas en te vereer.

Dit sluit in vroue wat van sopkombuise bedryf tot geestelike werk doen deur die Woord van die Here in gemeenskappe te verkondig.

Die Women of Excellence-toekennings is die inisiatief van die Barenice Wilskut Music Ministry onder leiding van die gospelsanger Barenice Wilskut van Roodewal.

Wilskut sê die identifisering en benoeming van hierdie tien merkwaardige vroue was glad nie kinderspeletjies nie.

Volgens haar het sy en haar span – wat bestaan uit haar man, Daniel, hul dogter, Berniehl, asook Tammy Jagers en Charlton Louw – self na gemeenskappe gegaan in hul soeke na dié merkwaardige vroue.

Sy sê in hul soeke na die vroue het hulle ook staatgemaak op verwysings deur die gemeenskap.

Barenice sê die vroue wat vereer word, moet een gemene doel hê, en dit is om lewens ten goede te verander.

Volgens haar moet Worcester van dié vroue weet, omdat hulle aan die einde van die dag met ’n helpende hand na nog ander in nood kan uitreik – of dit nou iemand is wat iets soek om te eet, ’n meisie wat swanger is en terselfdertyd verslaaf is aan alkohol of dwelms, of iemand wat gebuk gaan onder geslagsgebaseerde geweld.

Sy sê die benoemde vroue gaan op die aand met onder meer geskenke bederf word. Hulle gaan ook elk ’n sertifikaat en erkenningsbeeldjie ontvang.

Barenice sê benewens die gelukstrekkings tydens die geleentheid, gaan daar ook pryse vir die besgeklede man en vrou wees.

Kaartjies vir die geleentheid is reeds uitverkoop.

. Die vroue wat benoem is, sluit in Rolene Koen, Neliswe Mabuya, Petronella Steenkamp, Ingrid January, Erna Victor, Emsha Bailey, Christina Visagie, Spacelina Kapot, Celeste Diegardt en Roxanne Carelse.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article