Rolspelers en diensverskaffers het verlede week vergader om die afgelope veldbrandseisoen te bespreek. Voor, in die middel, is die raadslid Reggie Farao (portefeuljehouer: brandweerdienste, KWDM), Donovan Joubert (KWDM-Speaker), Margie Sampson (KWDM-adjunkburgemeester), dr. Elna von Schlicht (KWDM-burgemeester) en Henry Prins (KWDM- munisipale bestuurder) saam met die brandbestryders, reserviste en amptenare van die 2023-’24-brandseisoen. Foto:


Altesaam 1 435 brande is van 1 Julie 2023 tot 30 April 2024 – dus oor 10 maande – by die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se beheerkamer aangemeld.

Dit het aan die lig gekom tydens ’n bespreking ná die brandseisoen van die (KWDM) se brandweerdienste verlede week.

Die byeenkoms het ’n geleentheid gebied vir vennote, rolspelers en diensverskaffers, insluitend Leading Edge (lugondersteuning), CapeNature, die Wes-Kaapse regering, die Wynland-brandbeskermingsvereniging (BBV) en KWDM Brandweerdienste om statistieke, hoogtepunte, uitdagings en lesse wat uit die 2023-’24-brandseisoen geleer is, te deel.

Die meeste veldbrande het binne die grense van Stellenbosch en Drakenstein tot stand gekom, wat 69% van alle oproepe verteenwoordig het.

Die mees veeleisende tydperk was tussen 22 Januarie en 15 Februarie toe die distrik verskeie groot brande gelyktydig ervaar het.

Dit sluit in die reuse- Kluitjieskraal- en Brandvlei-brande, wat etlike dae lank gewoed het.

Uiterste weerstoestande, hoë temperature en sterk wind tesame met baie droë plantegroei het brandbestryding uitsonderlik uitdagend gemaak.

Samewerking tussen bestryding-vennote en rolspelers was noodsaaklik in die doeltreffende bestuur van die groot aantal brandvoorvalle.

“Deur ons hulpbronne en pogings op ’n gekoördineerde manier saam te voeg, kon ons brandvoorvalle doeltreffend hanteer en ons doelwitte bereik om lewens, eiendom, die omgewing en lewensbestaan te red,” het Wayne Josias, die KWDM-brandhoof, verduidelik.

Ten spyte van skade aan eiendom soos wingerde, boorde, waterinfrastruktuur en heinings, is geen burgerlike of brandweerpersoneel-ongevalle aangemeld nie.

“Van die brandweerbeamptes sowel as bedryfs- en administratiewe personeel, die grondspanne tot die vlieëniers, het almal geweldige toewyding, verbintenis en vaardigheid gedurende hierdie afgelope seisoen getoon. Was dit nie vir hul uitsonderlike werk nie, sou die Kaapse Wynlande veel groter skade en verliese aan eiendom en moontlik lewens ervaar het,” het die uitvoerende burgemeester, Elna von Schlicht, in haar toespraak gesê.

Namate die Wes-Kaap oorgaan van brandseisoen na die ná-seisoen-tydperk, sal Cape Nature en KWDM Brandweerdienste fokus op die verstaan van veld-biodiversiteit en die impak van klimaatsverandering op die ekostelsel.

Die Wynland-brandbeskermings­vereniging (BBV) sal grondeienaars bystaan in die instandhouding van brandbane, die vermindering van droë plantegroei en dies meer rondom strukture.

Die publiek word gemaan om steeds waaksaam te bly.

. Skakel 021 887 4446 om ’n veldbrand aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article