Die nuus van die dood van die Weskusser Solene Smith het baie mense in die gemeenskap en die groter Weskus geraak.
Smith is op Woensdag 3 April oorlede nadat sy ’n rugbesering opgedoen het. Sy is op Vrydag 22 Maart in die Vredenburg- provinsiale hospitaal opgeneem, waarna sy na Groote Schuur-hospitaal oorgeplaas is.
Volgens die familie is met hulle gedeel dat die rugbesering tot kwadruplegie en ander hoërugmurgbeseringskomplikasies gelei het. Dokters het die prognose op Maandag 25 Maart met die familie bespreek en daar is vasgestel dat daar nie ’n positiewe uitkoms vir haar sal wees nie, want “ten spyte van ondersteunende maatreëls versleg haar algemene toestand”, het dokters verduidelik.
Smith is op 12 September 1957 op ’n plaas in Hopefield gebore, waarna sy op die ouderdom van 21 jaar na Langebaan verhuis het. Sy het tot haar afsterwe daar gewoon.
Volgens haar kinders het Smith ’n hart van goud en baie liefde gehad. “Sy was ’n ma vir soveel, ’n visser-ma vir ander, ’n suster vir baie en ’n vriendin van almal. Sy was van harte ’n visservrou en ’n leier in die gemeenskap en het ’n goeie sin vir humor gehad en kon ’n vertrek dadelik ophelder met grappe as sy instap. Sy het soveel harte geraak oor die wêreld heen en was ’n rolmodel vir haar kinders, kleinkinders, agterkleinkinders en pleegkinders.”
Smith was by baie betrokke. Sy was ’n gesiene leier, gemeenskapsaktivis, voorsitter van Coastal Links se Langebaan-tak, betrokke by Masifundise, Feed the Need en vele meer.
Soos haar kinders beskryf, was sy voor in die ry om vir vissers se regte en die beskerming van die oseaan te veg. Haar kinders sal haar altyd onthou vir die geliefde moeder wat sy was. Haar raad, oor wat luister, haar lag en die feit dat sy net die beste vir hulle wou hê, sal hulle vir ewig bybly.
Volgens die raadsheer Marius Koen het Smith diep spore in die gemeenskap van Langebaan getrap en haar liefde vir die dorp en sy inwoners kan op veral drie vlakke waar sy baanbrekerswerk verrig het, van haar betrokkenheid getuig.
Koen getuig ook dat Smith konstant baklei het vir die regte en toegang van vissers tot die see.
“Sy het ook sterk opinies gehad oor die beskerming van kwotas vir plaaslike vissermanne, aangesien sy ook een gehad het,” vertel Koen.
Koen onthou ook haar passie vir die inwoners van Langebaan-Noord, veral oor die bejaardes en dié wat swaar gekry het.
“Van weeklikse sopkombuise waar sy kos gemaak het vir die wat honger was, veral in die covid-tydperk, tot versorging van ou mense en kinders. Haar hande het vir niks stilgestaan nie en almal kon altyd op haar vir bystand staat maak.”
Hy dink ook terug aan die impak wat sy gemaak het as politieke aktivis en haar betrokkenheid by die destydse Langebaan-munisipaliteit, waar sy gedurende die oorgangsraad voor die jaar 2000 na die Saldahabaai-munisipaliteit as ’n raadslid gedien het. Sy het tot haar afsterwe in die wykskomitee vir Langebaan gedien.
Volgens Vanessa du Plessis van For the Children het sy en Smith mekaar in 2016 ontmoet. “Wanneer ek aan haar dink, sien ek net hierdie opregte vrou met ope arms – altyd net plek om nog iemand te help, nog iemand lief te hê, sonder om twee keer te dink.
“Haar bestaan het regtig almal om haar verander. Ek is dankbaar dat Jesus Solene so lank vir ons almal geleen het hier op aarde tot ons weer ontmoet by die Here.”
Koen voeg by dat Smith ’n ystervrou met ’n warm hart vir haar mense was, wat vir altyd onthou sal word en ’n groot leemte los.
Smith laat haar drie kinders, nege kleinkinders, vier agterkleinkinders en drie pleegkinders agter.





