Die munisipale bestuurder, David Joubert, stel Lizaad Williams bekend aan raadslede en senior amptenare van die Weskus-distriksmunisipaliteit en Stad Tswhane by ’n kapasiteitsbou-sessie in Johannesburg.


Een van die Weskus se bobaas- krieketspelers het onlangs op ’n werksessie van die Weskus-distriksmunisipaliteit en die Stad Tshwane bietjie inspirasie verleen.

Die kennisuitruiling- en kapasiteitsbou-sessie tussen die Weskus-distriksmunisipaliteit en Stad Tshwane het in Johannesburg plaasgevind en die Weskus-munisipaliteit se munisipale bestuurder, David Joubert, het die Vredenburg-boorling en professionele krieketspeler Lizaad Williams uitgenooi. Joubert het die oud-Weskusser gelukgewens met sy onlangse suksesse op die krieketveld.

Williams speel tans vir die Northern Titans in Pretoria en het die Joburg Super Kings in die SA T20-reeks verteenwoordig. Hy is in 2021 gekies om die Proteas te verteenwoordig en word deesdae gereeld vir die nasionale krieketspan gekies.

Joubert het erkenning aan Williams gegee vir sy uitstekende prestasie op die krieketveld en hom verseker dat sy suksesse op die veld vele jongmense inspireer.

“Uitvoerende burgemeester, uitvoerende raad en kollegas, dit is vir my ’n groot eer om Lizaad, as ’n produk van die Weskus, te erken omdat hy as professionele krieketspeler uitblink en baie jongmense inspireer om hul drome na te jaag.

“Lizaad is ’n uitstekende voorbeeld van ’n jong man wat baie uitdagings en struikelblokke moes trotseer om sy doelwitte te bereik. Dit is ons plig as staatsamptenare om volhoubare omgewings te skep vir jongmense, soos Lizaad, om hul potensiaal te bereik,” meen Joubert.

Die Weskus-streek is bekend vir die feit dat hy uitstekende sportmanne en -vroue oplewer. Volgens die munisi­pali­teit is sy strewe om deur sy verskeie sosiale en ontspannings­aktiwi­teite meer jong mense die geleentheid te gee om bo hul omstandighede uit te styg.

Heinrich Robertson, woordvoerder vir die Weskus-distriksmunisipaliteit, verduidelik dit was ’n groot verrassing toe Williams by die vertrek instap.

“Dit was lekker om te sien hoe ’n jongman van die Weskus-streek sy droom uitleef en ’n lewe maak uit sport. Ek dink die munisipale bestuurder het ons almal net weer herinner die besluite wat ons in die openbare sektor maak, kan ’n massiewe impak hê en dat ons altyd in belang van gemeenskappe moet optree,” het Robertson gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article