’n Voormalige Weskus-seun, Chessie Jooste, nou ’n gr. 10-leerder aan Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp, is gekies vir die SA skolerugbyspan.
Dit is ’n groot prestasie vir hierdie jong man. Sy talent het begin skitter by Laerskool Panorama in Vredenburg.
Hylton Langly, skoolhoof van Laerskool Panorama, sê Jooste is ’n goeie sportman. “In die begin het hy op skool in die grondslagfase goed presteer. Die ander leerders kon nie byhou by sy talente nie. Hy het hoofsaaklik in atletiek goed gedoen,” vertel Langly.
Jooste het in die ouderdomsgroep van o.10 tot o.13 Laerskool Panorama op nasionale vlak in atletiek verteenwoordig.
In rugby het hy provinsiale kleure in 7’s-rugby en die Boland-Cravenweekspan behaal.
“Sy vasberadenheid en pliggetrouheid was duidelik sigbaar. Hy het nie toegelaat dat die moeilike omstandighede hom onderkry nie.”
Langly sê die skool is trots op sy prestasie en dat baie leerders opkyk na hom. “Ons glo hy sal nog baie ver kom, en Laerskool Panorama maak hom gereed vir die tweede Springbok ná die Protea-krieketspeler, Lizaad Williams.”





