Die atmosfeer was onbeskryflik en iets om te aanskou toe inwoners van Witteklip die strate van die buurt met gebed ingevaar het.
Die gemeenskap is geruk deur geweld en die onnodige sterftes van so baie en het besluit dat die enigste geveg teen hierdie euwel gebed is.
Volgens Norman van Wyk, ‘n gemeenskapsaktivis, was die staptog baie emosioneel.
“Ek het deur die strate van Witteklip gestap en is weer eens deur die werklikheid dat misdaad en geweld ons gemeenskappe van ons regte op vei- ligheid en vrede beroof, getref. Ek droom van ‘n gemeenskap – vry van dwelms, geweld en alkoholmisbruik – waar ons kinders en ons jeug kan grootword met die versekering dat hulle hul drome kan verwesenlik. Die gebedstap was vir my ‘n teken van hoop, terwyl dit terselfdertyd ‘n stelling gemaak het dat ons genoeg gehad het van die moorde.”

Van Wyk sê hy is dankbaar vir die geestelike leiers wat hul tyd opgeoffer het en dat die gebedstap die erkenning van die behoefte aan geestelike ingryping simboliseer het. “Dié wat dit bygewoon het en diegene wat vanuit hul huise gebid het, glo dat dit verandering gebring het en sal dit voortgaan om te doen.”
Lescha Louw, ook ‘n inwoner van Witteklip, sê die bidstaptog was doeltreffend en het ‘n groot uitwerking op die breër gemeenskap van Vredenburg gehad. “Ek kan met eerlikheid sê dat ‘n besonderse stilte oor die naweek in die buurt geheers het – Vredenburg vir Jesus!”
Die gemeenskap wil aanhou met die bidstaptogte en glo dat dit die verandering sal bring wat die buurt en hele Vredenburg nodig het.






You must be logged in to post a comment.