William Adams in die rol as Rikus Human in Arendsvlei.Foto:


“Dis ’n droom wat waar geword het.”

Dit is die woorde van William Adams (23) van Louwville, wat onlangs te siene is op die skerms van Arendsvlei, ’n Afrikaanse telenova.

Ná sukses in Johannesburg met die fliek Kings of Queenstown het William die rol van Rikus Human in Arendsvlei losgeslaan. William vertel aan Weslander dat hy en sy karakter, Rikus, baie van mekaar verskil. “Rikus is ’n introvert en baie stil, maar hy dra ’n groot las op sy skouers – ’n soort hartseer en verlange. Hy is lief vir boks, maar in tye kan hy sy kop verloor en baie aggressief raak,” vertel William.

Aan die ander kant vertel William dat hy, persoonlik, weer ’n ekstrovert is wat daarvan hou om te gesels. “Ek hou van netwerk met mense. Waar Rikus eerder ’n probleem sal oplos deur te baklei, sal ek weer dinge uitpraat.”

William geniet die ervaring op stel tot dusver baie – veral saam met Devonicia Swartz, wat die rol van Eva Jonkers vertolk, en Dann-Jacques Mouton, wat die rol van Lennie Engelbrecht vertolk. “Wat ek sover geleer het, is om kalm te wees en nooit op my senuwees te wees nie. Partykeer kan ek baie gespanne wees, want dit is my rolmodelle wat voor of langs my staan, maar ek herinner my altyd daaraan dat ek hier is om my beste te gee en nie moet slaplê nie.”

Baie lê nog vir hierdie jong akteur voor. “My toekomsplanne is om myself te verbeter, en ek hoop ek kry nog oudisies. Ek wil net my naam in die bedryf vestig.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article