Die enigste konstante in die lewe is verandering en Weslander moet aanpas by die tye.
Ná 54 jaar wat Weslander by betaalpunte en op straat te koop was, gaan dit van volgende week af gratis versprei word. Dit is ‘n historiese oomblik in die koerant se lewensverhaal.
Die hoofrede vir die besluit om gratis te begin versprei, is om dit meer toeganklik vir ons lesers te maak. Volgens ‘n gratis model kan dit na meer afsetpunte versprei word.
Ons kan ons drukoplaag heelwat verhoog, wat beteken dat sowat drie keer meer lesers die koerant onder oë gaan kry.
Weslander se inkomstemodel gaan nou oor van ‘n betaalde waarde na ‘n reikwydte gebaseerde waarde.
Wat egter onwrikbaar dieselfde gaan bly, is ons redaksionele waardes, geloofwaardigheid, die fokus op plaaslike nuus, hetsy in die gedrukte koerant, op die webwerf of op sosiale media.
Ons gaan voort met spesiale aanbiedinge soos invoegsels, bylaes en advertensie-artikels, hoewel sommige eksklusief aanlyn as e-publikasies aangebied sal word.
Die gedrukte weergawe word net herbelyn om by ons aanlynstrategie van daaglikse plasings in te pas. Met die keuse van aanlyn plasings kan brekende nuus onmiddellik deurgegee word.
Die kernboodskap is: Weslander word nie kleiner of minder relevant nie, inteendeel; ons reikwydte word groter en ons aanbiedinge meer toeganklik. Gratis beteken nie minder waardevol nie.





