Dit was ‘n aand van glans en swier toe Suid-Afrika se gemeenskapsjoernaliste vereer is by die AVBOB Forum van Gemeenskapsjoernaliste (FCJ) se toekenningsgeleentheid.
Die gesogte geleentheid het plaasgevind by die Protea Hotel Stellenbosch, Tegnopark, op Vrydag 22 Augustus.
Met altesaam 541 joernaliste van oor die land heen wat ingeskryf het, het Weslander-redakteur Alida Buckle en joernalis Noluvu Ludidi besonder goed gevaar. In die skryfadelings het Buckle ‘n vierde plek vir hardenuus-berigte, ‘n vyfde plek vir sportberigte en ‘n negende plek vir redaksionele kommentaar en rubrieke behaal.
In die fotografie-afdelings het Buckle ‘n tweede plek in die nuwe mobielefotografie-afdeling gekry en ‘n vyfde plek vir hardenuus-foto’s.
Ludidi het ‘n sesde plek in die menslikebelangstellingskategorie (human interest) behaal.
Vanjaar het deelnemers hul werk in verskeie kategorieë ten toon gestel, met voorblaaie en agterblaaie, gratis koerant van die jaar en boeiende menslikebelangstellingsverslaggewing en nuusberigte wat die inskrywings oorheers het.
Die toewyding en talent wat deur gemeenskapsjoernaliste in verskeie skryf- en fotografiekategorieë gewys is, beklemtoon die lewenskragtigheid en diversiteit van gemeenskapsjoernalistiek in Suid-Afrika. Buckle en Ludidi beskou dit as ‘n groot eer om in hierdie landwye toekennings erken te word.






