Noluvu “Lulu” Ludidi is vanjaar weer ’n finalis vir die Forum van Gemeenskapsjoernalistiek AVBOB-toekennings. Foto:


Die Forum van gemeenskapsjoernalis­tiek (FCJ) het verlede week die finaliste vir die AVBOB-FCJ-2022 aangekondig en die Weslander-redaksiespan het vele benoemings ontvang.

Dié nasionale toekennings word jaarliks gehou om gemeenskaps­joernalistiek te vereer.

Die beoordelaars het deur 531 inskrywings gesif om die finaliste te kies.

Volgens André Gouws was die 2022-inskrywings van ’n goeie gehalte.

“Die beoordelaars was beïndruk met die gehalte en blote aantal inskrywings wat ontvang is – baie meer as die vorige jaar. Met soveel inskrywings het die beoordelaars ’n moeilike taak gehad om die wenners te kies. Baie van diegene wat nie as finaliste gekies is nie, het ook baie goeie werk ingeskryf. Die algehele gehalte was indrukwekkend, en om ’n finalis te wees, is op sy eie ’n groot prestasie aangesien wenners in hierdie kompetisie werklik die beste van die bestes is,” meen Gouws.

Noluvu “Lulu” Ludidi is ’n finalis in die afdeling vir “mense-stories”, oftewel human interest. Haar beriggewing oor ’n verskeidenheid Weskussers en hul verhale het haar nasionaal onder die top-10 joernaliste in dié afdeling laat eindig. Lupus toe nié ’n doodsvonnis nie (12 Mei 2022) oor Trudie Marais, wat met lupus leef, en die romantiese verhaal van die Langebaners Nicolene Anderson en Dicky de Wet (’n Tweede kans op liefde, 17 Februarie 2022) wat mekaar ná jare gevind het, was onder Ludidi se inskrywings.


Ludidi het verlede jaar die derde plek in dieselfde afdeling gewen.


Maryke Swart, redakteur van Weskus Media, is benoem vir haar redaksionele kommentaar.


Die joernalis Yaël Malgas is benoem vir haar foto-werk in die algemene
afdeling. Haar foto-inskrywings was onder meer van ’n rugby-derby tussen die Saldanha-rugbyklub en Vredenburg asook die oorhandiging van ’n nuwe bussie vir Harbour of Wellness.

Die koerant is ook onder die top-10 koerante in die afdeling: Betaalde koerante in korporatiewe besit: sirkulasie meer as 5 000.

Die wenners van die kompetisie sal Vrydag 4 Augustus by die Southern Sun Cape Sun-hotel in Kaapstad aangekondig word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article