Die nuwe hek langs die Weskuspad. Foto: Noluvu Ludidi

Die Weskus Nasionale Park is vanjaar 40 jaar oud en die groep visioenêre denkers wat in 1985 besluit het om ‘n reservaat te stig om te verseker dat die pragtige natuurskoon in en om die strandmeer vir die nageslag bewaar word, is die afgelope Vrydag (14 November) behoorlik gevier.

Die nuwe hek langs die Weskuspad (R27) is terselfdertyd amptelik in gebruik geneem.
Dit bied die opsie om besoekers op die besigste tye, soos in die blommeseisoen of op gewilde vakansiedae soos Kersdag, in vier bane tot die park te kan toelaat.

Die hek is al sedert Julie uitgetoets en met vanjaar se blommeseisoen, verseker Pierre Nel, die hoof-afdelingsveldwagter, was daar nie een klagte van motors wat in die Weskuspad opdam nie.
Die gebou is met die omliggende omgewing in gedagte gebou met lae sement- dakke en argitektuur wat die gebou en die fynboslandskap laat saamsmelt.

Die nuwe hek langs die Weskuspad. Foto: Noluvu Ludidi

Bongani Mnisi, SANParke se streekhoof vir die Wes-Kaap, het by die hek se inwyding gesê die park se veertigste bestaansjaar is ‘n mylpaal. Hy het ook daarna verwys dat hy self as jong man ‘n veldwagter in dié park was.

“Ons vier vandag ‘n nalatenskap waaraan ons hoop ons geregtigheid sal laat geskied. Ons vier mense wat gekies het om dit te beskerm, eerder as om dit uit te buit. Ons moet verseker dat die bewaring daarvan voortgaan, dat dit verantwoordelik ontwikkel word en toegelaat word om te groei.”

Mnisi het die seremoniële gedenkplaat saam met Nel, Charlene Adams, die parkhoof, en Property Mokoena, die hoof van die parke-afdeling by SANParke, onthul.
Die Weskus Nasionale Park-koor het die hek se opening met ‘n paar liedere afgesluit.

By die onthulling van die seremoniële gedenkplaat is, van links, Property Mokoena, hoof van die parke-afdeling by SANParke, Charlene Adams, parkhoof, Pierre Nel, hoof-afdelingsveldwagter, en Bongani Mnisi, SANParke-streekhoof vir die Wes-Kaap.

Daarna is die verjaarsdag saam met die gemeenskap van Langebaan en die breër Weskus by die Boesmanland-plaaskombuis met sang, musiek en toesprake onder die wakende oog van die seremoniemeester, Charlton Niewoudt, gevier.
Parkpersoneel het ook hul langdienssertifikate ontvang. Verskeie langdienende personeellede het die park se transformasie van die begin af beleef.

William Brink, ‘n afdelingsveldwagter wat al vir 37 jaar by die park werk, het in sy toespraak gesê hy het al as ‘n klein seuntjie geweet hy wil eendag ‘n veldwagter word. Hy beskou dit sy Godgegewe roeping om die park te help bewaar. Hy hoop ook om eendag ná sy aftrede as ‘n ere-veldwagter daarmee voort te gaan.

Bongani Mnisi, SANParke-streekhoof vir die Wes-Kaap.
Stanley Slingers, veldwagter, is trots op sy werk en het al self ‘n paar skelms in die park gevang. Foto: Noluvu Ludidi

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article