Waar en hoe het jou liefde vir die reg begin? My liefde vir die reg het begin as ’n klein vyfjarige dogtertjie. My oorlede ouma Angela Odendaal was baie lief om Judge Judy te kyk. Dit het ook een van my gunstelinge geword; veral wanneer sy daai hamer so geslaan het, het dit net iets in my wakker gemaak. Ek het vir myself gesê, eendag as ek groot is wil ek ook die hamer slaan.
Wat het jou studies alles behels? Ek was ’n leerder by Panorama Primêr, daarna Hoërskool Weston toe. Toe ek op Weston kom, het ek geweet regte is my passie en liefde. Ek het baie hard geleer op hoërskool en is daarna aanvaar by Nelson Mandela-universiteit. As ’n Weskuskind was dit ’n baie groot besluit vir my ma om my na ’n vreemde stad te stuur, sonder enige familie of vriende. Maar soos ek altyd vir my ma gesê het, mamma hoef nie bang te wees nie, ek gaan dit maak, want ek gaan vir my droomloopbaan. Uiteindelik het ek my regsgraad voltooi op die ouderdom van 23 en begin werk as kandidaatprokureur.
Tans is jy ’n landdros in George, hoe was jy eers betrokke in die Weskus? Ek was ’n plaaslike prokureur by die Regshulpraad, Legal Aid, soos ons almal dit ken in Vredenburg, van 2018 tot en met 2024 en het howe soos Vredenburg, Laaiplek en Hopefield gedien. Ek het die landdrospos in George in Junie 2024 gekry.
Jy is een van die jongste landdroste in George, wat beteken dit vir jou? Om eerlik te wees, toe ek die oproep ontvang het, kon ek nie glo ek word ’n landdros op die ouderdom van 34 nie. Ek het baie gehuil van blydskap en dit wys net God is goed en harde werk dra vrugte. Ek weet my kollega noem my ’n baba, maar ek beskou dit nie as ’n belediging nie, ek sien dit as ’n kompliment. Dit wys, ongeag hoe jonk jy is, jy kan dit doen. Ek leer baie by my ouer kollegas.
Die rol as landdros kan gewoonlik gesien
word as ’n mans-gedomineerde beroep. Wat is jou denke hieroor? Dit is so waar, wanneer ’n mens nog kyk na die howe is dit steeds meer mans as vroue. My ervaring is dat mense manlike landdroste meer respekteer en vrees as vroue. Jy as vrou moet twee keer harder werk om gesag af te dwing en om gerespekteer te word, maar jy moet jy sterk wees en jou werk na die beste van jou vermoë doen. Jy moet vir jouself sê, al is ek nie ’n man nie, ons is dieselfde en ons doel is om dieselfde werk te doen en dit is om geregtigheid toe te pas, sonder vrees, guns of vooroordeel. Ek is so bly om te sien vroue word al hoe meer as landdroste aangestel en ons is sterk op dreef.
Wat is jou boodskap aan Weskussers? Ek is ’n boorling van Vredenburg. Ek het grootgeword in Moordkuil in Louwville en later het ons in Yskor in Louwville gaan bly waar my ouerhuis nog steeds is. My boodskap aan elke Weskuskind is, ongeag waar jy vandaan kom, jy kan as jy wil. Moenie laat jou omstandighede jou toekoms bepaal nie. Daar is baie geleenthede daar buite, wees nuuskierig, vra vrae, daar is so baie universiteite daar buite en beurse en finansiering. Moenie jou bekommer omdat mamma en papa nie geld het nie. Leer hard, doen aansoek. Jy sal aanvaar word en daar sal geld wees. Moet nooit dink omdat jy in ’n staatskool was of is dat jy nie eendag suksesvol kan wees nie. Moet jou nooit meet aan ander nie. Werk hard en glo in jouself. Wat ook baie belangrik is, is gebed. Nog belangriker, God is bo alles. Jy kan ook die volgende landdros wees.




