Die kans om eendag haar drome uit te leef is wreed weggeruk vir ’n pragtige, lewenslustige jong Weskus-vrou wat op ’n Vrydagaand net wou uitgaan en haarself geniet. Haar lewenslig is grusaam uitgedoof.
Die lewelose, naakte lyk en kledingstukke van die 19-jarige Leandre de Klerk is Saterdagmiddag (10 Junie) weggesteek tussen boomstompe op die La Rhyn-plaas in die Citrusdal-omgewing gekry. Sy het as ’n seisoenale lemoenplukker op die plaas gewoon en gewerk.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, is sy Vrydagaand laas lewend gesien.
Nadat mense die volgende middag om 14:50 op haar lyk afgekom het, het die Citrusdal-polisie vinnig opgetree en inligting opgevolg, wat tot die inhegtenisneming van twee mans in verband met die moord gelei het.
Teswin Fransman (33) en Eswin Titimani (34) het Dinsdag (13 Junie) in die Citrusdal-landdroshof op aanklag van moord verskyn. Albei die verdagtes het vorige veroordelings.
Fransman het dieselfde dag in nóg ’n saak in die hof verskyn. Hy is Vrydagoggend 9 Junie ook in hegtenis geneem en op waarskuwing vrygelaat om in die hof te verskyn. Dié aanklag hou verband met ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hy glo Sondag 4 Junie met ’n 20-jarige oor alkohol slaags geraak het.
De Klerk is reeds deur haar familielede uitgeken, en haar ma, Chrizelda de Klerk (37), het gesê dat sy haar dogter Vrydagmiddag laas gesien het toe sy op pad dorp toe was om geld te gaan trek.
Sy het nie woorde gehad om haar hartseer te beskryf nie, behalwe om te sê dat sy gebreek is deur die moord.
“Leandre was ’n baie openhartige kind met baie vrinne.”
Chrizelda het ook gesê sy ken die verdagtes glad nie.
Die lykskouing wat die oorsaak van De Klerk se dood sal bepaal, is gister (Woensdag 14 Junie) uitgevoer.
Billy Claasen, ’n kampvegter vir plaaswerkers, het gesê De Klerk het uitgegaan om te kuier. “Sy het nie gevra vir dít nie.”
Hy het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om hom by te staan om druk toe te pas dat die verdagtes nie borgtog kry nie.
. Intussen het die Saldanha-polisie weer eens die moontlike verdagte in die moord op die 34-jarige Fillda Patricia Vaughan van Diazville ondervra, maar niemand is nog in verband met dié moord aangekla nie.
Veiligheidsbeamptes het Donderdag 18 Mei omstreeks 09:30 op Vaughan se halfnaakte lyk op die strand by Tabakbaai, Diazville, afgekom. ’n Video van die toneel is wyd op sosiale media versprei.
Die uitslag van die lykskouing, wat Woensdag 24 Mei gehou is, sou gistermiddag (Woensdag 14 Junie) bekendgemaak word. Sy is moontlik verwurg, maar Helfrich kon dit nog nie bevestig nie.
Sy het vroeër gesê Vaughan het ’n bytmerk van ’n mens aan haar skouer en veelvuldige beserings aan haar lyf gehad.
Die Saldanha-polisie ondersoek die saak verder.



