Matthew Dreyden doen die finale afronding vir die voorgereg – ’n biltong-en-mieliemeel-arancini bedien met ’n marinara-sous.Foto’s: Aiden en Colan Fransman


’n Jong Weskus-sjef woeker met sy godgegewe talente om ’n verskil in jong behoeftige skoolkinders se lewe te maak en hulle te help om hul drome te bewaarheid.

Op 20-jarige ouderdom klop Matthew Dreyden van Velddrif se hart warm vir sy gemeenskap en wil hy saam met sy gesin terugploeg in die skool en die Weskus-gemeenskap wat vir hom die platform geskep het om sy eie drome uit te leef.

Die oud-hoofseun van die Hoërskool Hopefield het reeds in sy matriekjaar in 2022 die MF Dreyden-fonds begin met die doel om kinders of leerders met spesifieke behoeftes te help en ook organisasies te ondersteun waar skoolleerders betrokke is.

Terwyl Matthew verlede jaar nog besig was met sy opleiding om as sjef te kwalifiseer, het die idee vir ’n Langtafel-ete by hom opgekom om geld vir die fonds in te samel sodat dit aan meer kinders se behoeftes kan voorsien.

“Ek, saam met my gesin en familie, wou graag terugploeg in die skool [Hoërskool Hopefield] en die Weskus-gemeenskap en kyk waar ons ’n verskil kan maak. Volgens my het elkeen die reg om sy of haar drome na te jaag; dis vir my belangrik om seker te maak dat daardie leerder die nodige hulpbronne het om sy of haar drome te bereik.”

Die Dreydens het die idee aan Hopefield se skoolhoof, Wehan Fourie, asook die voorsitter van die beheerliggaam, voorgelê, wat dadelik ingestem het. Die koeël was deur die kerk en die eerste Come Dine with Matt-langtafelete is verlede jaar aangebied.

Hoewel hy aanvanklik die belangstelling wou toets, is sy grootste verwagtinge oortref toe die 60 kaartjies vinnig uitverkoop het en Fourie hom sommer die dag ná die ete gekontak het om te vra of hulle dit vanjaar weer kan doen.

Dié keer was dit Matthew wat sonder huiwering ingestem het.

Die tweede aflewering van Come Dine with Matt is Vrydagaand (22 November) onder ’n groot markiestent in die voortuin van die Hoërskool Hopefield gehou, met 95 gaste wat by die langtafelete kom aansit het.

“Hierdie jaar wou ek groter gaan en my disse meer verfyn. Dit was ’n viergangmaaltyd en ek wou dit eenvoudig hou, maar terselfdertyd my vaardighede tentoonstel. Ek het verskillende cuisines – naamlik Italiaans, Mexikaans, Indies en Frans – gevat en ’n Suid-Afrikaanse kinkel in elke dis gesit. Die spyskaart was outentiek en dit was Chef Matt op die bord,” vertel hy met ’n nederige trotsheid.

Nie net was die geleentheid ’n reusesukses met gaste wat behoorlik vol lof was vir die geurige disse, netjiese tafelbediening en feetjiemooi atmosfeer op een van die min windstil-aande in die Weskus nie, maar ’n allemintige R34 000 is ook met dié geselligheid ingesamel.

“Om weer eens ’n volgepakte langtafel te hê, was vir my definitief iets wat uitgestaan het. Dit wys belangstelling in die MF Dreyden-fonds, die kinders in die gemeenskap, die skool en ook in my as jong entrepreneur en sjef in die gemeenskap.”

Die geld wat ingesamel is, gaan uitsluitlik aan die Hoërskool Hopefield vir leerders met behoeftes in sport en kultuur asook skole en gemeenskapsprojekte waarby kinders in die breë Weskus-gemeenskap baat.

Dit het ’n R5 000-skenking aan Panorama Primêr ingesluit, wat aangewend sal word vir skoolskoene en skooldrag; R2 000 aan Diazville Primêr ten bate van skoolklere vir behoeftige leerders; R4 000 vir die Pencils for Smiles-skryfbehoefteprojek in Velddrif; R2 000 om skoolklere vir twee Noordhoek Primêr-leerders vir die nuwe skooljaar te koop; en R10 000 aan die Hoërskool Hopefield om aan te wend vir behoeftige leerders wat op sport- en kulturele gebied uitblink, asook ander behoeftes wat die skool geïdentifiseer het.

Die oorblywende geld sal in die fonds bly en aangewend word namate ’n behoefte ontstaan.

“My droom is dat ek graag wil hê meer behoeftige kinders aan die Weskus moet uit hierdie fonds voordeel trek. Dis vir my belangrik dat kinders van ’n jong ouderdom moet besef dat hulle groot moet droom en hul drome moet najaag. ’n Goeie sportman of -vrou moenie huiwer om by ’n sportdag of aan ’n kultuurgeleentheid te gaan deelneem net omdat hulle nie die nodige uitrusting het nie. Ek wil graag sorg vir diegene wat in daardie gevalle behoeftig is.”

Maar soos wat daar agter elke suksesvolle man ’n goeie vrou staan, staan daar agter dié jong sjef ’n hele weermag wat hom deurentyd ondersteun en gegrond hou.

“Ek sal definitief my ouers, my broers en my suster wil bedank, wat my deur alles bygestaan en ondersteun het. Hulle bied my die nodige ondersteuning om my te help om my drome na te jaag. Die Hoërskool Hopefield is soos my tweede huis en dis altyd lekker om huis toe te gaan. Mnr. Wehan en die skool het hul vertroue in ons geplaas om hierdie geselligheid te reël en daarvoor sal ons hulle ewig dankbaar wees.”

Hy bedank ook in besonders Snyer Business Consulting, wat hom raad gee en bystaan in sy reis; Glenryck en Pioneer Fishing, wat die hoofborg op die aand was; asook die ander borge – Glenwood Wines, Keyway Shipwright en Excellence Tailored for You.

“Baie dankie vir almal wat die aand bygewoon het en ook die inisiatief ondersteun – dit word opreg waardeer.”

Wat hou die res van die jaar vir dié beskeie jong sjef in, wat reeds in die kombuis van vele Afrikaanse vermaaklikheidspersoonlikhede, onder wie Tracey Lange, Marciel Hopkins, Armand Aucamp en Dean Smith, voor die stoof gestaan het?

Matthew vertel hy is tans besig met sy pastry-kursus, wat hy teen Januarie aanstaande jaar sal voltooi, en hoop om dan meer ondervinding in die bedryf op te doen. “Terselfdertyd wil ek my naam steeds uitkry en kyk hoe ‘sjef Matt’ kan groei en net groter en beter as sjef kan raak.”. Kontak die Hoërskool Hopefield by 022 723 0040 of stuur e-pos na Matthew by matt.dreyde7@gmail.com om by die MF Dreyden-fonds betrokke te raak of ’n skenking te gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article