Lena Waterboer deel kospakkies by een van haar Kersfeespartytjies in 2021 uit.


Om terug te ploeg in haar gemeenskap lê Lena Waterboer na aan die hart.

Lena, ’n inwoner van Vredenburg, se liefde vir haar gemeenskap en almal om haar kom al ’n lang pad. Weslander het vantevore berig oor haar gemeenskapsprojekte wat onder meer Kersfeespartytjies vir bejaardes en kinders, ’n terug-skool-toe-projek asook kos vir mense in nood ingesluit het.

“Die kinders, bejaardes en dié in nood lê my baie na aan die hart. Dit gaan nie oor om in die gemeenskap gesien te word nie, maar om te weet ek kon die gemeenskap met hul behoeftes help.”

Die onderneming waar Lena gewerk het, het toegemaak en sodoende het sy meer tyd op hande gehad. Sy het besluit sy wil haar eie organisasie met die naam Shalom begin.

Die doel van die organisasie is om terug te gee aan die gemeenskap en projekte van stapel te stuur waardeur sy van hulp kan wees. Sy werk saam met vyf ander komiteelede en sê sy het ook die besluit geneem om ma’s met pasgebore babas te help met klere en ander behoeftes wat hulle het, asook graad 12-leerders wat hulp nodig het met bykomstighede vir hul matriekafskeid.

Sy is dankbaar vir die komiteelede wat saam met haar werk en sê hulle help om alles moontlik te maak.

Lena het groot planne vir die organisasie en het ook die hulp van dié in die gemeenskap, wat met projekte kan help, nodig.

Met elke projek wat Lena aanpak, vertrou sy die Here met haar hele hart.

“Ek tree eers in gebed en sodoende loop alles seepglad. My liefde vir die gemeenskap sal nooit te sterwe kom nie; dit sal sterwe wanneer ek sterf.”. Die Shalom-organisasie werk tans aan ’n projek waardeur winterklere ingesamel word. Skenkings soos sokkies, skoene, komberse en nie-bederfbare kos is welkom en kan voor Donderdag 28 April by Poustraat 629 in Louwville afgelaai word. Die oorhandiging aan behoeftiges sal Maandag 2 Mei plaasvind.

Vir nog inligting, kontak Lena by 078 550 2459 of stuur e-pos na shalomwestcoast@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article