Die Weskus Twizza-netbalkompetisie het vir heelwat opwinding gesorg toe plaaslike spanne mekaar op die baan ontmoet het om dinge uit te spook.
Op Saterdag 1 Julie het verskeie spanne deelgeneem aan die kompetisie wat aanvanklik ingestel was op ontwikkeling. Dié kompetisie is ook ’n nasionale een.
Abbotsdale-netbalklublede het vir heelwat opwinding op die baan gesorg met hul besonderse prestasie. Die Weskus-netbalfederasie se nuut geaffilieerde klub het met hul eerste deelname aan die kompetisie ook koning gekraai.
Malmesbury-netbalklub het in die tweede posisie geëindig met Malmesbury se Angels wat die brons geneem het.
Abbotsdale en Malmesbury dring nou deur na die Wes-Kaap Twizza-kompetisie wat later vanjaar plaasvind.
Die wenspan se spelers het ook vele van die individuele toekennings opgeraap. Abbotsdale se Lucille Boks was die top-senterbaan-speler en Britanee Appollus het die beste doel gehad en is ook as die beste speler van die toernooi aangewys. Die beste verdediger van die kompetisie was Melissa Esterhuizen van Citrusdal.




