Weskus se rolbalveterane wat op 3 Desember aan die liga deelgeneem het. Foto: Kiewiet van Rooyen

Die Weskus-rolbalveterane (spelers ouer as 60), het die afgelope ses weke met ywer en deursettingsvermoë in ‘n mededingende liga, wat sy hoogtepunt op Woensdag 3 Desember by die Langebaan-buiteklub se baan bereik het, teen mekaar meegeding.

Altesaam 12 spanne met ses spelers elk het week ná week die balle laat rol en mekaar behoorlik opgekeil in ‘n liga wat van die sterkste deelname in jare getoon het.

Die eindstryd het geensins teleurgestel nie. Yzerfontein-2 het uiteindelik koning gekraai en die Atuba Weskus-veteraneliga verower. LCE-3 was die naaswenners, met LCE-1 in die derde posisie en Yzerfontein-3, wat vierde geëindig het.

Volgens Tertius Loubser, die pre- sident van Weskus-rolbal, bied die sport nie net mededinging nie, maar ook waardevolle fisieke oefening.

“ ’n Bal weeg sowat 1 kg en ‘n speler buk tot 18 keer in ‘n wedstryd om die bal te rol. Dit bied uitstekende oefening,” verduidelik hy. Hy beklemtoon dat rolbal vir oud én jonk is en dat dit maklik aangeleer kan word.

“Baie klubs bied ope dae vir beginners en die meeste spelers ontdek gou hoe die strategiese elemente die spel uitdagend én opwindend maak.”

Loubser doen ook ‘n beroep op skole om leerders aan die sport bloot te stel:

“Rolbal behels verskeie afdelings en kinders sal verbaas wees oor die vaardighede wat deur rolbal ontwikkel kan word.”

Met die suksesvolle afsluiting van die 2025-liga sien spelers en ondersteuners reeds uit na volgende jaar se seisoen. As die afgelope ses weke iets wys, is dit dat die sport aan die Weskus sterker as tevore staan en dat die balle gewis nog baie entoesiasties oor die bane gaan rol.

• Kontak jou naaste rolbalklub of skakel Tertius Loubser by 081 317 3785 vir nog inligting.

Weskus se rolbalveterane in aksie op die Langebaan-buiteklub se baan. Foto: Letita Van Zyl-Schultz
Yzerfontein-2 se span, wat die Atuba-Weskus-veteraneliga gewen het. Foto: Kiewiet van Rooyen

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article