Weskus-rolbal het verskeie opwindende planne wat vir 2026 in die vooruitsig gestel word. Die fokus is op groei, vernuwing en die volhoubare ontwikkeling van rolbal in die Weskus.
Volgens Kiewiet van Rooyen, die sekretaris, is een van die belangrikste doelwitte om deelname te verhoog – veral onder juniors.
Afrigtingsgeleenthede vir beginners word by elke klub deur gekwalifiseerde afrigters aangebied.
Belangstellendes kan enige tyd hul naaste rolbalklub vir besonderhede kontak.
Sosiale sakeligas word gereeld deur die verskillende klubs aangebied en sakeondernemings word aangemoedig om hieraan deel te neem.
Dit is altyd groot pret.
Ope dae word ook beplan om rolbal aan die breër gemeenskap en skole bekend te stel.
Vanjaar gaan aandag aan veral ervare spelers geskenk word deur vaardigheidswerksessies vir hulle aan te bied.
Die doel hiervan is om die spelers toe te rus met die vaardighede wat nodig is om bestendig op streeks-, provinsiale en selfs nasionale vlak mee te ding.
Ontwikkeling- en vaardigheidskursusse word ook aangebied vir spelers om in amptelike hoedanighede as skeidsregters en afrigters op te tree.
Die eerste Boland-kompetisie op Weskusvlak is reeds gehou en kompetisies word nou bykans elke week gespeel.
Samewerking en gemeenskapsbetrokkenheid bly die hoeksteen van Weskus-rolbal se planne.
“Deur sterk bande met plaaslike gemeenskappe, borge en ander sportliggame te bou, wil ons verseker dat rolbal ‘n lewenskragtige en inklusiewe sport op die Weskus bly,” het Van Rooyen gesê.
• Kontak Van Rooyen by 082 896 5826 vir nog inligting oor geleenthede waar jy jou vernuf ten toon kan te stel of meer by ervare spelers kan leer.





