Netbalspelers het vanjaar vir die eerste keer aan die Transnet/Saldanha Super-8-toernooi deelgeneem en geskitter.
Tydens vanjaar se toernooi, die vierde aflewering van die gewilde rugby-kompetisie, is netbal vir die eerste keer as kode ingesluit. Danksy die samewerking van 3Cube Management asook Hollywood Bets en Twizza het netbalspelers die bane aan die brand gespeel.
Die Wêreldbeker Netbal 2023 word in Julie in Kaapstad aangebied en in die lig hiervan het die ses distrikte van die Wes-Kaap elk ’n internasionale span by die Super-8 verteenwoordig. Suid-Afrika is deur die spelers van Sentraal Karoo verteenwoordig, Engeland deur Overberg, en die Wynlande het as Nieu-Seeland gespeel.
Jamaika is deur spelers van die Eden-distrik verteenwoordig terwyl spelers van die Moederstad as Australië deelgeneem het en die plaaslike Weskus-spelers Uganda verteenwoordig het.
Die Weskus A-span (Uganda) het ’n silwermedalje verower, terwyl die B-span ’n bronsmedalje losgespeel het.
Die plaaslike o.20-span het ook brons verower.
Die plaaslike spelers het ook in individuele kategorieë uitgeblink:
A-afdeling:
Beulen Lazarus – Beste Senterbaan
Ansuné Smit – Beste Verdediger
B-afdeling:
Amy le Fleur – Beste Doel
Badrunisah Ahmed – Beste Senterbaan
Jodene Saaiman – Beste Verdediger
o.21-afdeling:
Mané Visser – Beste Doel





