Madoda Duli, van Laingville, het as toergids vir Kirsten Steenfeldt-Kristensen en Cindy Thornton gedien as deel van die nuwe Weskus-roete van die Cape Camino.


Twee pelgrims was Dinsdagoggend die eerste stappers wat die nuwe roete van die Cape Camino aan die Weskus aangedurf het.

Die Cape Camino is ’n staptog en die volle roete strek deur die Kaapse Wynlande, die Skiereiland en die Weskus.

Volgens Gabrielle Andrew van die Cape Camino strek die nuwe vyfdag- staptog kuslangs van Velddrif na Langebaan.

Stappers gaan onder meer tuis in St. Helenabaai, Paternoster en Jacobsbaai op pad na Langebaan. Van hier word die pelgrims na Yzerfontein vervoer, waar hulle weer padlangs na die Swartland beweeg.

“Pelgrims wil nie eiehandig die streek besoek nie – hulle soek ’n plaaslike, unieke ervaring. Daarom is die meeste van ons slaapplekke langs die roetes óf tuis- óf plaasverblyf. Deur dié ervaring kan mense verhoudings bou en ’n meer outentieke ervaring kry as wat jy in ’n hotel waar die hele ervaring meer op dienslewering ingestel is, sou kry,” meen Andrew.

’n Camino-staptog, hoofsaaklik van die Camino de Santiago de Compostela afgelei, bied ’n veilige en heilige ruimte vir wandelende pelgrims om hul land te verken terwyl hulle tyd neem vir hul eie behoeftes van refleksie en ontspan­ning. Stappers loop saam met plaas­like inwoners wat as toergidse dien.

Volgens Andrew is die filosofie van die camino om plaaslikes na die roetes en die toerismesektor te lok.

Madoda Duli van Laingville het Dinsdag as toergids vir Kirsten Steenfeldt-Kristensen en Cindy Thornton opgetree.

Andrew sê benewens Suid-Afrikaners wat die Cape Camino voltooi, wil verskeie internasionale toeriste ook die roete kom stap.

Om die staptog of gedeelte van die roete aan te pak, skakel 083 997 7404 of stuur e-pos na info@capeca­mino.­co.za. Besoek ook www.capecamino.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article