Die seilplankryer Karo van Tonder.


Die Weskus spog met van die beste wind en trek jaarliks seilplankryers en dus is dit geen verrassing dat een van die wêreld se beste vroueseil­plankryers ’n Langebaner is nie.

Karo van Tonder (33) is ’n wêreldrekordhouer en die sesde vinnigste vrou in die wêreld. Weslander het met Karo gesels oor die vreugde en uitdagings van die sport hierdie Vrouemaand.

As kind het Karo en haar gesin jaarliks van George na Langebaan gereis vir hul Desember-vakansies. Op 12 het haar pa, self lief vir seilplankry, besluit dit is tyd vir Karo om te leer.

“Dit is ’n unieke sport wat verskeie elemente van wind en water bymekaar bring. Daar is niks soos die band wat jy met die natuur het wanneer jy op die water is nie,” meen sy.

Wind surf het ook ’n rol in Karo se liefdeslewe gespeel, want dit was danksy die seilplankrylesse dat sy haar man, Charl, ontmoet het.

“Seilplankry is iets wat ons steeds saam geniet. My familie is ook my grootste ondersteuners en kom saam wanneer ek aan kompetisies deelneem. Hulle ken my styl en verstaan my kop, so hulle verstaan my goed.”

Karo sê oor die jare heen en met vele kompetisies agter die blad het sy juis besef hoe belangrik dié ondersteuning is, veral vir ’n vrou in sport. “Dit is ongelukkig so dat daar mense is wat nie goeie voornemens het nie. Daar is ek baie selektief en versigtig oor die borge en mense met wie ek werk.”

Karo bieg die sakesy van die sportwêreld kan ’n uitdaging wees, maar een wat sy oor die jare geleer het om aan te pak. Aangesien seilplankry ’n relatief klein sportsoort is, is borgskappe veral gesog en moeilik om te kry. “Benewens die sport is daar geleenthede vir werk met handelsname wat brille, klere of toerusting maak. Dit is hoekom dit belangrik is om myself te bemark en my brand te ontwikkel.

“As atlete is ons so gefokus en gedrewe in wat ons doen. Die ure wat jy insit, die tyd en die jare wat jy werk aan jou vaardighede, die insette word hoër en hoër. Daarom is dit belangrik om na jou welstand te kyk.”

Dit is ook haar raad aan voornemende seilplankryers, veral die van die skoner geslag. Sy meen dit is belangrik om sielkundig goed na jou- self om te sien en sy sê ’n sielkundige se hulp is waardevol. “Kry iemand wat ’n pad saam met jou kan stap. Die emosionele welstand van ’n atleet is net so belangrik, want daar is mense wat jou sal wil afbreek en dit kan oornag gebeur. Ongelukkig is dié gedrag volop in sport,” vertel sy.

Hoewel Karo die seilplankry-spoedrekord oor 500 m met 38,96 knope hou, sesde op die wêreldranglys is en vele eerstes vir vroue in die sport bereik het, meen sy dit is haar deursettingsvermoë wat sy as die hoogtepunt van haar loopbaan beskou.

“Ek het vele beserings oor die jare opgedoen en moes vele operasies ondergaan. Tog het ek elke keer uit op die water gegaan. Ná ’n skouer- en Achilles-besering het ek teruggeveg en dít in ’n sport waar mans oorheers.”

Karo sê sy is daarom veral trots op haar prestasies, want dit kan baie intimiderend wees om in die “mans-sport” uit te blink. Sy hoop ook haar bekendheid sal ander meisies en vroue inspireer om nie terug te staan nie. Sy meen juis omdat daar min vroue is wat professioneel die sport beoefen, is daar groot geleenthede.

Maar waarvoor mik jy wanneer jy reeds al hierdie prestasies behaal het?

“Dis altyd goed om ’n doel voor oë te hê. Ek dink oor die jare het ek myself reeds aan myself bewys, maar ek streef om van sesde plek [op die wêreldranglys] na die top-drie op te skuif. Ek is baie naby en glo dit sal gebeur.”

Sporthoogtepunte is nie al waaraan Karo werk nie. Sy werk ook aan ’n reeks duikpakke spesifiek vir vroue. Die idee is om liggaamspositiwiteit te bevorder en meer jongmense in die buitelug te kry. Intussen hou Karo aan met haar seilplankry en bestee maklik vier ure op die water wanneer sy kan.

“Ek het oor die wêreld heen gereis en in verskeie waters gekompeteer, maar ek moet sê die Weskus se wind is die beste. Ons is baie bevoorreg hier.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article