Die Weskus het sy bloedigste Paasnaweek nog beleef met elf mense wat in gewelddadige voorvalle dood is, het kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, gesê.

Goeie Vrydag (29 Maart)

Q Joseph Williams (57): Williams is omstreeks 13:00 in Dolliestraat, Saldanha, met ’n mes doodgesteek. Hy het na bewering tussenbeide getree tydens ’n onderonsie tussen ’n 16-jarige meisie – skynbaar ’n familielid van hom – en ’n ouer vrou by ’n winkeltjie in Dolliestraat, Saldanha. Williams is met ’n mes in die linkerkant van die bors gesteek en het by sy huis aan sy wond beswyk. Mornay Joernaal (23) het Dinsdag 2 April in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van moord verskyn.

Q Carmen Rosenberg (31): ’n Hewige stryery tussen Rosenberg en haar ma op Goeie Vrydag in Moorreesburg het tot haar dood gelei. Die oorledene het na bewering haar ma met ’n stok bygekom en toe sy haar weer wou slaan, het haar ma, Sophia Frans (53), ’n mes gegryp en Rosenberg twee keer in die bors gesteek. Die beseerde Rosenberg is per ambulans na die Swartland-hospitaal in Malmesbury geneem, waar sy gesterf het. Frans het Dinsdag in die Malmesbury-landdroshof op aanklag van moord verskyn.

Q Joseph Kotelo (28): Kotelo het om 22:40 op Goeie Vrydag in Clanwilliam na bewering stry gekry met sy meisie se broer, Moses Raase (43). Raase het glo die mes afgeneem gekry en Kotelo daarmee gesteek. Kotelo het by die huis weens veelvuldige meswonde gesterf.

Raase het Dinsdag in die Clanwilliam-landdroshof verskyn.

Q Kudzai Chinhopo (32): ’n Struweling tussen twee vroue in Vredendal het daartoe gelei dat hul kêrels tussenbeide getree het. In ’n oor-en-weer-messtekery is Chinhopo en sy aanvaller beseer. Die voorval het omstreeks 16:00 plaasgevind en Chinhopo se lewelose liggaam is later by ’n huis in Mangaung, Vredendal-Noord, met veelvuldige meswonde gekry. Chinhopo se vermeende aanvaller is steeds in die hospitaal, ook met veelvuldige meswonde.

Saterdag 30 Maart

Q Cornelius Pypers (39): Pypers en Niklaas September (34) van Citrusdal was glo die aand om 19:00 in Suikerboslaan in ’n stryery betrokke toe September na bewering ’n mes uitgehaal en Pypers in die rug gesteek het. Pypers het in die straat gesterf. September het op Dinsdag 2 April in die Citrusdal-landdroshof verskyn.

Paassondag 31 Maart

Q Domenic de Bruyn (22): George Davids het Dinsdag 2 April in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van moord nadat hy De Bruyn na bewering net ná middernag in Kooitjieskloofstraat doodgesteek het. Die polisie het op ’n klagte gereageer dat ’n man met ’n mes gesteek is. Hulle het De Bruyn dood in die straat gekry met die mes steeds in sy gesig.

Q Russell West (28): West se lyk is omstreeks 00:20 in Lysterstraat, Witteklip, gekry met ’n nekwond. Wesley Bester (23) en Gervon Rolse (26) het Dinsdag in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Q Deserin Smit (39): Die Sondagoggend omstreeks 01:30 het ’n gesinsgeweldvoorval in Moorreesburg tot Smit se dood gelei. Sy en haar lewensmaat, Isak Maarman (48), het blykbaar oor drank baklei. Maarman het Smit glo met ’n mes gesteek, waarna sy na die Swartland-hospitaal geneem is. Sy is daar oorlede. Maarman het Dinsdag in die Malmesbury-landdroshof verskyn.

Q Unathi Ndywangu (30): Ndywangu se lewelose liggaam is omstreeks 22:25 in Namandauw, Riverview, in Citrusdal gevind. Hy het twee steekwonde in die rug gehad. Niemand is nog vir die moord in hegtenis geneem nie.

Maandag 1 April

Q Sisonke en Avi Radi (ouderdomme onbekend): Die uitgebrande liggame van dié twee broers is Maandagaand om 20:15 by die “dam” naby George Kerridge-buurt in Vredenburg gevind. Die presiese omstandighede rakende die moorde word nog ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article