Die Boland en Weskus is goed in die onlangse Mpumalanga-meesterstoernooi verteenwoordig.
Douglas Hector van die Langebaan Strandlopers-atletiekklub was onder die drie Boland-atlete wat Saterdag (29 Oktober) aan die meesterstoernooi in Secunda-stadion deelgeneem het.
Die drie het agt medaljes – sewe goud en een brons – verower.
Hulle was goed voorbereid vir die eendagtoernooi, wat deur ’n redelike opkoms van toeskouers en ondersteuners verwelkom is.
Hector het in sy ouderdomsgroep aan die 5-km-spoedstap deelgeneem. Hy het ’n goue medalje en ’n persoonlike beste tyd van 26:50:03 losgestap.
Die Salkoriane-atleet Phillip Jacobs het hom gewis by die geleentheid laat geld. Dié kranige middel- en langafstandatleet staan nie terug vir enige uitdaging wat na sy kant kom nie en hy het goud in die 800 m-wedloop (3:09:54) sowel as die 1 500-m-wedloop (5:46:54) verower.
Saam met die Weskus-atlete was Randall Smith, wat Hermanus/Bredasdorp verteenwoordig het. Smith se prestasies was: gewigstoot, 7,6 m (brons); 200-m-wedloop in 26,01 sek. (goud), 400 m in 1:00,40 (goud), 800 m in 2:09,34 (goud) en die 1 500 m in 5:45,59 (goud).
Dié drie gebruik die toernooie as voorbereiding vir die 2023- jaarlikse meesterstoernooi in Kaapstad.





