Die Wes-Kaapse regering het ’n ooreenkoms met Denemarke onderteken waarvolgens kundigheid uitgeruil gaan word ten opsigte van die bestuur en tegniese aspekte van 17 afvalwateraanlegte langs die Bergrivier.

Die ooreenkoms is verlede week deur Alan Winde, die Wes-Kaapse premier; Anton Bredell, die LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning; en Flemming Møller Mortensen, Deense minister van ontwikkelingsamewerking, onderteken.

Winde het gesê die ooreenkoms is daarop gemik om kennis uit te ruil om die bestuur en tegniese aspekte te verbeter sodat die 17 afvalwater-behandelingsnetwerke langs die Bergrivier beter kan werk.

Volgens Bredell word die vennootskap verwelkom omdat dit op ’n kritieke tydstip kom.

Volgens die navorsing sal meer vars water deur die riviermonding moet vloei om die ekologiese stelsels te bewaar en om ’n aanvaarbare vlak van ekologiese gesondheid in die riviermonding te handhaaf.

“Dit is egter ook nodig dat beter water deur die suiweringsaanlegte in die rivier vrygestel word.

“Die navorsing wys genoeg water bereik die riviermonding in die winter, maar te min in die somer.

“Die ooreenkoms sal ’n belangrike rol speel om die gehalte van water, wat deur die aanlegte in die Bergrivier teruggepomp word, te verbeter,” meen Bredell.

Die riviermonding het onlangs Ramsar-status ontvang, wat beteken dit kry nasionale en internasionale erkenning weens die ekologiese belangrikheid van die gebied.

Winde het gesê die uitslag van die projek vir die Bergrivier-munisipaliteit sal aan alle belangegroepe, wat betrokke is by rivierstelsels, voorgelê word om sodoende besoedeling te bekamp. Dit sluit ’n demonstrasie in van hoe verskillende metodes en tegnieke deur munisipaliteite gebruik kan word.

Winde het ook die wens uitgespreek dat die sterk bilaterale bande tussen Denemarke en die Wes-Kaap van krag tot krag sal gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article