Werknemers van die Tronox-minerale skeidingsaanleg by Brand-se-baai het Dinsdagaand op die menslike oorskot van vermoedelik ‘n kollega in ‘n deel van die myn afgekom.
Die Lutzville-polisie is besig met ‘n geregtelike doodsondersoek-saak. Daar word vermoed dat die werker van ’n 3m hoë steierwerk afgeval het. Die oorledene se oorskot is omstreeks 23:00 gevind.
Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het benadruk dat die presiese omstandighede rondom die werknemer se dood ondersoek word. Die persoon se identiteit kan nie op hierdie stadium bekendgemaak word nie.




