Die agste VN Globale Padveiligheids- week wat van 12 tot 18 Mei gehou is, het ‘n hernude fokus op die veiligheid van voetgangers en fietsryers geplaas.
Padongelukke is wêreldwyd een van die hoofoorsake van sterftes en gestremdhede, met byna 1,2 miljoen sterfgevalle en tot 50 miljoen beserings jaarliks. Dit is die grootste oorsaak van sterftes onder jongmense tussen 5 en 29 jaar.
In die Wes-Kaap is voetgangers en fietsryers besonder kwesbaar en verteenwoordig meer as die helfte van alle padsterftes in die provinsie. Die aanhoudend hoë aantal dronkbestuur-inhegtenisnemings vererger die probleem verder.
“Elke lewe wat op ons paaie verlore gaan, is een te veel. Voetgangers en fietsryers bly van die kwesbaarste padgebruikers, en die aantal dronkbestuur-inhegtenisnemings is uiters kommerwekkend. Agter elke voorval is ‘n werklike mens – ‘n ouer, ‘n kind, ‘n vriend, buurman of kollega.
“Ons doen ‘n beroep op alle padgebruikers om stadiger te ry, waaksaam te bly, en persoonlike verantwoordelikheid te neem om ons paaie veiliger te maak vir almal,” het Muneera Allie, die Wes-Kaapse departement van mobiliteit se hoof van kommunikasie, gesê.
Veiligheidswenke vir voetgangers:
Steek slegs by aangewese voetgangeroorgange en brûe oor.
Vermy stap op snelweë en besige paaie.
Dra sigbare of reflekterende klere, veral snags of in swak weerstoestande.
Bly waaksaam – vermy afleidings soos fone of oorfone naby verkeer.
Veiligheidswenke vir fietsryers
Gebruik fietsbane waar beskikbaar.
Bly naby die linkerkant van die pad.
Volg verkeerstekens en -seine.
Ry saam met die vloei van verkeer.
Wees sigbaar. Dra helder klere gedurende die dag en reflekterende toerusting in die nag.
Gebruik voor- en agterligte wanneer jy in die donker ry of wanneer sigbaarheid swak is.
Sein met jou hande wanneer jy draai of van baan verwissel.
Wees op die uitkyk vir padgevare en ander padgebruikers, veral by kruisings.
Dra altyd ‘n behoorlik passende veilig- heidshelm.
Vermy die gebruik van oorfone terwyl jy fietsry.
“Die Wes-Kaapse regering is daaraan toegewy om padveiligheid te verbeter en paaie in die provinsie veiliger te maak vir almal. Kom ons doen almal ons deel om verdere tragedies te voorkom,” aldus Allie.





