Weskussers én besoekers moet waaksamer wees oor die feesdae, met grypdiewe en diefstal uit motorvoertuie wat gewoonlik dié tyd van die jaar toeneem.
Behalwe vir die universele goue reël van “Moenie drink en bestuur nie”, is hier ’n paar ander veiligheidswenke vir die feestyd:
- Identifiseer dadelik waar sekuriteitspersoneel in die winkelsentrum patrolleer.
- Wees bewus van jou besittings soos jou handsak wanneer jy inkopies doen. Moenie groot bedrae kontant by jou te dra en moenie jou beursie of selfoon in ’n buitenste sakkie bêre nie. Moenie jou handsak of ander waardevolle items los in jou trollie neersit nie.
- Wees versigtig met openbare Wi-Fi, want sommige hot spots enkripteer nie data nie, wat tot identiteitsdiefstal kan lei.
- Wees versigtig vir té vriendelike vreemdelinge wat swendelaars kan wees.
- Kies veilige parkering in die aand waar dit goed belig en besig is.
- Versteek jou PIN-kode-inskrywing met jou vrye hand wanneer jy jou debiet- of kredietkaart gebruik.
- Laat weet altyd vir iemand waarheen jy gaan en hoe lank jy weg sal wees.
- Vertrou jou instink.
- Moenie waardevolle eiendom sigbaar hou waar misdadigers dit kan sien nie. Dit geld veral in voertuie. Moet liewers niks in die voertuig los waar skelms dit van buite kan sien nie.
- Veiligheidswenke vir padverbruikers is om eerstens die reëls van die pad te gehoorsaam. Besoekers kan gerus onthou dieselfde padreëls geld in die Weskus as in die res van die land.
- Dra jou rybewys by jou.
- Vir Weskussers wat met vakansie gaan, onthou om jouself genoeg tyd te gun om die bestemming te bereik. . Maak seker jou voertuig is padwaardig voordat jy vertrek – alle ligte, rigtingwysers, voorruite, ruitveërs, remme, stuur, skokbrekers, uitlaatstelsel en bande moet noukeurig vir foute ondersoek word.
- Moenie die voertuig oorlaai nie en rus elke twee uur of 200 km. Rus, drink en eet iets en ry voort sodra jy goed uitgerus is.
- Handhaaf ’n volgafstand van minstens twee sekondes – hierdie afstand moet snags, in mistige of reënerige toestande en wanneer die pad nat is, verleng word.
Bykomende bronne: SAPD, Trellidor, Arive Alive.




