Met die Desembervakansie wat landwyd momentum kry, waarsku Badisa dat kinders hierdie jaar aan verhoogde veiligheidsrisiko’s blootgestel kan wees.
“Die kombinasie van langer dae sonder toesig, veranderde roetines, verhoogde alkoholverbruik en die algemene feestyd-
druk lei jaarliks tot ‘n styging in voorvalle waarin kinders se veiligheid in gedrang kom,” sê Karoline September, ‘n maatskaplike werker by Badisa.
September sê die belangrikste beginsel is eenvoudig: Ouers moet te alle tye weet waar hul kinders is. “Wanneer kinders sonder toesig rondbeweeg – veral in die vakansie – word hulle aan gevaar blootgestel. Probeer so ver as moontlik om kinders by die huis besig te hou sodat hulle nie in die strate ronddwaal nie. As jy ‘n werkende ouer is, moet jy jou kinders in betroubare sorg plaas.”
Gedurende die feestyd verander baie gesinne se roetines en ouers is meer sosiaal weens verskeie byeenkomste wat dikwels met verhoogde alkoholverbruik gepaardgaan. Hierdie faktore kan kinders se veiligheid direk beïnvloed.
“Ons sien elke jaar dat kinders makliker verwaarloos of selfs mishandel word wanneer volwassenes hul aandag na sosiale aktiwiteite verskuif.
Ouers moet verantwoordelik omgaan met alkoholgebruik en te alle tye in die beste belang van hul kinders optree.”
Volgens September kom ‘n paar herhalende risiko’s elke vakansieseisoen na vore. Kinders word soms alleen by die huis gelos of selfs uitgesluit wanneer ouers by ander geleenthede is. Alkoholmisbruik vererger hierdie situasies en verhoog die kans op verwaarlo- sing, mishandeling en molestering.
Waterveiligheid bly ook ‘n groot risiko. “Talle kinders swem in damme en ander waterplekke sonder toesig. Dit is ‘n ernstige gevaar. Ouers moet seker maak kinders ontvang toesig en loop nie alleen rond of gaan alleen swem nie,” waarsku sy. Sy moedig ouers aan om openlik met kinders te praat oor gevare in die gemeenskap en om duidelike reëls en perke vir die vakansie te stel.
Wanneer gesinne besige plekke soos strande, winkelsentrums of feeste besoek, is voorbereiding noodsaaklik. Ouers moet vooraf met kinders praat en verduidelik dat hulle naby hul ouers of familie moet bly. Jonger kinders moet hul volle name ken, asook hul ouers se name. “Dit help baie as ‘n kind verdwaal.
Ouers kan ook ‘n eenvoudige armband maak met kontakbesonderhede daarop wat die kind kan dra. As die kind wegraak, kan iemand vinnig die ouers kontak. Kinders moet ook die noodnommer 10111 ken en ouers moet hulle wys waarheen hulle kan gaan as hulle verdwaal, soos menseredders op strande, opwip-polisie-eenhede of die inligtingstoonbank in ‘n winkelsentrum.
“As ‘n ouer bekommerd is dat hul kind onveilig is of wegraak, moet hulle dadelik hulp soek. Kontak die plaaslike polisie, jou naaste Badisa-kantoor of maatskaplike dienste in jou omgewing,” sê September.
Badisa moedig ouers en versorgers aan om hierdie noodnommers byderhand te hou en dit ook met ouer kinders te deel. Vinnige optrede kan ‘n groot verskil maak wanneer ‘n kind wegraak, beseer word of in gevaar is.
Nuttige noodnommers vir die Desembervakansie:
• Polisie-noodgeval: 10111
• Childline Suid-Afrika (gratis hulplyn vir berading en mishandeling): 116
• Algemene selfoon-noodnommer: 112
• GBV-oproepsentrum (meld mishande-
ling aan): 0800 428 428
• Hulplyn vir mensehandel: 0800 222 777
• Ambulans / mediese noodgeval: 10177



