“Deur altyd paraat te wees en wysheid aan die dag te lê, kan ’n mens grootliks voorkom om ’n slagoffer van ’n traumatiese misdaad te word.”
Só sê AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, nadat twee inwoners van Saldanha op onderskeidelik 3 en 5 Oktober deur rowers geteiken is.
Op 3 Oktober om 04:30 het ’n man (30) in die hawegebied huis toe gestap toe hy deur drie mans oorval en van sy selfoon beroof is.
Volgens Kotze is nog ’n man (59) op 5 Oktober omstreeks 05:00 beroof toe hy by Capitec se outomatiese bankteller in Saldanhaweg geld getrek het. ’n Man wat ’n panga by hom gehad het, het die slagoffer gedreig en hom van sy ID, bankkaart en R1 800 beroof.
“In albei gevalle was die slagoffers maklike teikens. Albei mans was vroeg in die oggend, voor sonsopkoms, stoksielalleen toe dit gebeur het.
“Die publiek moet liefs altyd in groepe stap en nie alleen gaan geld trek wanneer dit nog donker is nie,” het Kotze gesê.
Hoewel inwoners nie gewaarborg kan word dat hulle nooit ’n slagoffer van misdaad sal wees nie, kan die risiko grootliks verminder word deur eenvoudig paraat te wees en “jou gesonde verstand te gebruik”, verduidelik sy.
In nog ’n voorval in Vredenburg is ’n bejaarde man (86) Vrydagaand 7 Oktober deur twee vreemdelinge, wat kwansuis hulp gevra het, in sy huis in Cameliastraat oorval.
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, sê die twee rowers het die man en sy vrou met ’n mes gedreig en met vyf ringe ter waarde van R40 000 gevlug. Die rowers het ook R300 en ’n ID-boekie uit die huis gesteel.
In hierdie geval kon die voorval verhoed word as die mense eerder nie die vreemdelinge vertrou het nie.
“Die publiek word gevra om onder geen omstandighede hul deure vir vreemdelinge oop te maak nie. Ontbied eerder hulp as vreemdelinge by jou huis ronddwaal. Raak betrokke by jou buurtwag, wat reeds regstreekse kommunikasiemiddels het as jy in nood verkeer,” het Helfrich gesê.
Enigeen wat inligting kan bied met betrekking tot dié drie rooftogte in Saldanha en Vredenburg, word gevra om onderskeidelik die Saldanha-polisiekantoor by 022 714 8300 of die Vredenburg-polisiekantoor by 022 713 6440 te skakel.

