Alida Buckle
‘n Klag van bedrog is op Donderdag 21 Augustus by die Vredenburg-polisiekantoor aanhangig gemaak nadat ‘n plaaslike onderneming uitgevind het dat vervalste mediese geskiktheidser-
tifikate, met hul logo daarop, in Saldanha en Vredenburg verkoop word.
Volgens sr. Kobie Coetzee van die Profsurv Medical Surveillance Clinic in dié twee dorpe het die verkoop van vervalste sertifikate die vorige twee weke die hoogte in geskiet.
Sy was geskok om uit te vind hoeveel van dié soort bedrog skielik gepleeg word. Hul maatskappy lewer sedert Julie 2015 dienste aan die Weskus en beskou die onwettige verkoop van vals mediese sertifikate as ‘n klap in die gesig.
Hulle doen professionele mediese ge- skiktheidstoetse en handhaaf jare lank uiters hoë prestasiestandaarde.
Om ná tien jaar uit te vind dat hul werk nageboots en teen ‘n vyfde van die prys verkoop word, is skokkend.
Die bedrieglike mediese sertifikate word hoofsaaklik in die Middelpos- informele nedersetting langs Diazville, Saldanha, en George Kerridge in Vredenburg verkoop.
sigbaar vals
Die persoon wat die bedrog by Coetzee aangemeld het, het ook vervalste sertifikate van ander soortgelyke maatskappye sowel as doktersertifikate met plaaslike dokters se besonderhede daarop, geïmpliseer.
“Ons het ‘n saak by die polisie aangemeld sodat die voorkoms van die bedrog onmiddellik ondersoek kan word. Ons het die afgelope twee weke ‘n skielike afname in kliënte gehad, waarna ‘n betrokke party die bedrog met bewyse by ons aangemeld het.”
Volgens Michelle Pienaar van Dibanani Beroepsveiligheid en -gesondheid in Saldanha het hulle ook die afgelope twee weke terugvoer van veral arbeidsagente gekry oor vervalste sertifikate met hul logo daarop. “Jy kan sommer sien die sertifikaat is vervals.”
Sy het die probleem ‘n jaar gelede by die polisie gaan aanmeld, waarna dit effens stiller geraak het. “Dit is nie net geskiktheidsertifikate nie, die vervalsers verkoop glo ook matrieksertifikate, bestuurslisensies, Samsa-sertifikate en ander tersiêre diplomas.”
Ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid (Wet 85 van 1993) moet alle werknemers ‘n geldige mediese sertifikaat hê, wat hulle ontvang nadat hulle ‘n mediese assessering vir geskiktheid om te werk voltooi het.
vertrouensbreuk
“Hierdie bedrieglike sertifikate word vir R150 verkoop, terwyl ‘n professionele ondersoek tot R700 kan kos. Ons verstaan die behoefte van die kliënte om werk te vind, maar hulle kan onwetend ‘n vervalste sertifikaat koop. Die gevolg kan egter ‘n vertrouensbreuk met ‘n werkge- wer wees as ontdek word dat die werknemer ‘n bedrieglike sertifikaat ingedien het,” het Coetzee gesê.
Volgens haar is alle mediese ondersoeke risiko-gebaseerd, waarvoor ‘n werkgewer ‘n Bylae 3-vorm indien voordat ‘n geskiktheidsertifikaat verkry word. Tydens so ‘n ondersoek sal die kliënt ‘n dwelmtoets ondergaan, wat negatief moet wees voordat hulle op die werksperseel toegelaat word.
Die toetse sluit ook ‘n gehoortoets, ‘n longfunksietoets, visiesifting, ‘n volledige fisieke ondersoek (insluitend bloeddruk, gewig en bloedsuiker) in, en spesifieke toetse vir, onder meer lengtes, beperkte ruimtes vir spesifieke poste soos be- stuurders en operateurs.
Die vervalste sertifikate het ‘n ander lettertipe, lettergrootte, gebruik hoofletters en het lêernommers wat aan mediese praktisyns toegeken word. Die bedrieërs verander egter nie die naam of benaming en stempel van die mediese praktisyn wie se sertifikate hulle vervals nie.
Coetzee doen ‘n beroep op alle werkge-
wers om hulle te kontak indien daar onsekerheid is oor die geldigheid van ‘n mediese sertifikaat met hul logo daarop, veral as dit in die afgelope drie weke ingedien is. Stuur onmiddellik e-pos na info@profsurv.co.za of bel hulle by 061 585 1459.




